Philip terug, Boom op bank
2011-09-28 08:06
Bloemfontein – Mededinging in die lynstane het Dinsdag die deurslag gegee toe Naka Drotské, die Vrystaatse rugbyafrigter, sy flanke vir Saterdag se Curriebeker-kragmeting hier met die Leeus moes kies.
Ná goeie vertonings deur die Cheetahs-losvoorspelers in Saterdag se sege van 34-20 oor die Westelike Provinsie, het die terugkeer van die beseerde rooikop-flank Philip van der Walt sy breier laat kopkrap.
Van der Walt sal sy terugkeer tot die beginspan maak. Die Blitsbok Boom Prinsloo speel in sy laaste Curriebeker-wedstryd vir die Vrystaters as plaasvervanger.
Verder ruil Francois Uys en Wilhelm Steenkamp plekke in die 22-tal om. Uys draf in die beginspan teen die Leeus uit.
Van der Walt het sowat drie weke gelede hier teen die Blou Bulle ’n hou teen die kop gekry en die kragmetings met die Haaie en WP misgeloop.
Prinsloo, wat ’n kontrak met die Blitsbokke het en slegs tot einde vandeesmaand vir die Cheetahs beskikbaar is, het uitstekend in Van der Walt se afwesigheid vertoon. Prinsloo is met vyf drieë een van die voorste driedrukkers in die reeks.
Hoewel dit volgens dié losvoorspeler se kontrak sy laaste Curriebeker-wedstryd is, sal hy, gemeet aan sy goeie spelpeil, waarskynlik nog langer Curriebeker-rugby wil speel.
Boonop het Johan Wessels ook teen die Streeptruie as plaasvervanger uitgeblink en hy is ongelukkig om weggelaat te word.
Volgens Drotské was dit nie ’n maklike keuse nie, maar Van der Walt en Lappies Labuschagné se lynstaanvermoëns het aan hulle regmerkies besorg.
“Wat ’n groot rol speel, is ons mededinging in die lynstane en ook om ons eie lynstane te wen,” sê Drotske. “Met Lappies en Philip wat beskikbaar is, het ons twee spelers wat in dié afdeling aangewend kan word.
“Boonop sal Boom ’n goeie impak in die tweede helfte maak.”
Steenkamp was teen die WP die eerste keer in vyf weke in die beginspan en sal Saterdag weer ’n plaasvervanger wees.
Die Vrystaat-span is:
Hennie Daniller, Rayno Benjamin, Robert Ebersohn, Philip Snyman, Cameron Jacobs, Johan Goosen, Pieter van Zyl, Ashley Johnson, Philip van der Walt, Lappies Labuschagné, Izak van der Westhuizen, Francois Uys, Coenie Oosthuizen, Adriaan Strauss, Marcel van der Merwe.
PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Trevor Nyakane, Wilhelm Steenkamp, Boom Prinsloo, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Andries Strauss.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24