Perses-kaptein kan VS uithelp
2011-10-12 10:07
Bloemfontein – Met die Cheetahs se oefenveld wat gister baie soos ’n hospitaalsaal gelyk het, was die Vrystaters genoodsaak om as ’n voorsorgmaatreël by die Griffons om hulp te gaan aanklop.
Die senter en kaptein van die Perses, Werner Griesel, het hom reeds gister in die Vrystaat-stadion by die Vrystaat-span aangesluit en kan as ’n plaasvervanger ingesluit word vir Saterdag se Curriebeker-buurmanstryd teen Griekwas.
Griesel het nog verlede Vrydag in Wellington die Perses aangevoer in ’n halfeindstryd van die Curriebeker se Eerste Liga teen die Boland-Kavaliers.
Hy was ook vroeër vanjaar deel van die Cheetahs se vergrote Super Rugby-oefengroep.
Sy insluiting vir die buurstryd teen Griekwas sal egter afhang van die herstel van beseerdes soos die losskakel Sias Ebersohn (enkel), die veelsydige agterspeler Riaan Smit (kuit) en die vleuel Rayno Benjamin (dyspier).
Benjamin se kanse om te speel, is bitter skraal en Smit is dan sy aangewese plaasvervanger.
As Ebersohn onttrek, behoort Smit na losskakel te skuif, met die deurwinterde Philip Burger wat dan as vleuel oorweeg sal word. Griesel kan dan as plaasvervanger ingesluit word.
Die afrigter van die Cheetahs, Naka Drotské, het gister bevestig dat Ebersohn ’n kans van vyftig persent het om betyds te herstel, maar dat Smit gereed behoort te wees.
Afgesien van Ebersohn, Smit, die losskakel Johan Goosen (harsingskudding), die senter Philip Snyman (lies) en Benjamin wat nie gister geoefen het nie, het die slot Francois Uys net langs die kantlyn fiets getrap.
Uys behoort nietemin die hardwerkende en onderskatte Izak van der Westhuizen se slotmaat teen die Poubloues te wees.
Daar was gister ook geen teken van die Springbok-flank Heinrich Brüssow of die Blitsbok Boom Prinsloo nie.
Die erns van Brüssow se ribbesering, wat hy in die Wêreldbeker-wedstryd teen die Wallabies opgedoen het, is nog onbekend.
Duidelikheid oor sy verdere beskikbaarheid vir die Vrystaters wat reeds tot die halfeindstryd deurgedring het, kan vandag verkry word.
Prinsloo het gister saam met Paul Treu, afrigter, se Blitsbokke geoefen en dit kan beteken dat die blondekop-baljagter Johan Wessels weer nader geroep sal word.
Wessels was vroeër die seisoen ’n staatmaker met sy vreeslose inklimspel en wyse waarop hy om besit by die afbreekpunte meegeding het.
Drotské kon weens die beserings nie gister sy span aankondig nie en sal Ebersohn tot op die laaste nippertjie kans gee om te herstel.
)Al is die Vrystaat seker van ’n plek in die halfeindstryd, is daar steeds baie vir die Cheetahs teen Griekwas op die spel. Die Vrystaters sal eerstens wil vergoed vir die nederlaag wat hulle in die eerste ronde teen die Poubloues in Kimberley gely het. Die Poubloues het toe met ’n sterk eindpoging vorendag gekom om die besoekers in die tweede helfte te verras.
Die Vrystaters kan ook met ’n moontlike sege oor Griekwas nog tuisveldvoordeel in die halfeindstryd bespreek.
Maar die Vrystaters (42 ligapunte) sal daarvoor moet duim vashou dat die Leeus met die Haaie (43 punte) in hul laaste ligaverpligting afreken.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Volksblad