Oud-Bokke bekommerd oor Leeus
2011-07-05 09:16
Johannesburg – Die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) moet sy president, Kevin de Klerk, met bedrewe sakemense in die uniebestuur omring.
Dít is die mening van twee oud-Springbokke van dié unie wat, soos die meeste van die unie se ondersteuners, met vrae worstel ná die nuutste bom wat om die uniebestuurslede se koppe gebars het.
“Ek steun Kevin eenhonderd persent en weet hy is ’n man van integriteit. Maar my raad sal wees dat hy hom met sakemense omring – nie rugbymense nie,” sê ’n gewese Bok- en Transvaal-vleuel, Ray Mordt.
Dié bekommernis spruit voort uit die afgelope week se skeuring tussen die GLRU en GumaTAC as sakevennoot.
GumaTAC beweer onder meer die GLRU sit met miljoene rande se skuld en het nie die nodige vernuf om die unie as ’n sakeonderneming te bedryf nie.
“Hierdie ís nou ’n besigheid, ’n groot besigheid,” sê Mordt.
“Ek is net ’n buitestander, maar ek dink die unie het Kevin as ’n sakebrein nodig.
“Maar die probleem kan dalk die ouens om hom wees. Dit gaan oor wins, bemarking, vermaak en ’n klomp dinge wat sakegerig gedryf moet word. Dit gaan nie net oor rugby nie.”
Mordt is, soos baie ander mense in Leeus-kontrei, senuweeagtig oor die gevolge van swak bestuur, veral met die oog op die Kings se toekomstige insluiting in Super Rugby.
Die Lions se deelname aan dié reeks kan dan in die gedrang kom.
“Maar dit lyk asof Kevin positief is en ons moet wag en kyk wat hy nou gaan doen. Johannesburg is dié stad in Suid-Afrika en die unie moet sy sake eenvoudig in orde kry,” sê Mordt.
“Hier is groot myngroepe en yslike sakeondernemings in Gauteng en Johannesburg en dié mense moet byeenkom.
“Maar ek glo Kevin-hulle weet wat hulle moet doen.”
Mordt sê hy sou ’n skuif van Ellispark na die FNB-stadion in Soweto steun as dit uit ’n sake-oogpunt sin maak.
Hennie le Roux, ook een van die Leeus se voormalige Springbokke, sê hy het baie vrae oor die GLRU-Guma-vennootskap en wil nie nou al vinger na individue wys nie.
Maar oor die voortdurende gerugte oor bestuursprobleme by die unie sê Le Roux “hy het nie meer woorde nie”.
“Met die omskakeling van rugby as amateur- na beroepspel in 1996 was die probleem dat die amateurdeel nog in beheer was.
“Die Leeus was darem nog tot in 2000 in ’n redelik sterk geldelike posisie en kon dus langer so uithou.
“Die normale manier was dat die unies wat heel eerste swaargekry het met hul omskakeling (van amateur- na beroepsunies) hulle dan na sakemense gewend het.
“Maar as ’n unie nog heeltyd verliese toon en nie reg bestuur word nie, raak dit ’n bekommernis.
“Dit is moeilik om presies te sê by wie die probleem lê, maar iemand moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
“Met ander unies kan ek dit nog begryp, maar in die Leeus se konteks praat ons van Johannesburg waar al die mag en geld lê.
“Dalk lê die probleem by die struktuur in die unie, want dit was in die verlede baie ander unies se probleem, aangesien daar steeds ’n amateur-denkwyse (in besluitneming) was.
“Daar is goeie administrateurs by die Leeus, maar of hulle in die meerderheid is, is ’n ope vraag,” sê Le Roux.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24