Oud-Bok Ernst Dinkelmann sterf
2010-10-22 15:04
Johannesburg - Die voormalige Springbok-slot Ernst Dinkelmann, wat deel was van die Bok-groep wat in 1951 na Brittanje getoer het, het vroeg Vrydagoggend weens 'n beroerte aanval by die Medi-Kliniek in Nelspruit gesterf.
Dinkelmann (83) het Suid-Afrika in 21 wedstryde vanaf 1951 tot 1953 verteenwoordig.
Hy was in vyf wedstryde kaptein vir Noord-Transvaal (Bulle) en het in 49 wedstryde vir die Ligbloues uitgedraf.
Dinkelmann het die talent gehad om in die flank-, slot en agsteman-posisies te speel.
Selfs na sy loopbaan as speler het die oud-Springbok voortgegaan om bydraes tot rugby te lewer.
Hy is die skrywer van riglyne wat vandag nog deur afrigters gebruik word om balvaardighede by spelers te verbeter.
"My pa was ongelooflik lief vir rugby en het byna elke dag van sy lewe op die rugbyveld spandeer. Hy was die beste rolmodel wat 'n jong man voor kon vra," het Dinkelmann se seun, Roland, gesê.
Hoewel die Bulle aanvanklik nie van die besluit gehou het nie, het Dinkelmann die Goue Leeus in die vroeë negentigerjare suksesvol saam met die voormalige Springbok-breier Harry Viljoen help afrig.
Hy word oorleef deur sy vrou, Lucy (81), vyf seuns en 'n dogter.
Volg Nuus24 op Twitter.