Oranje-koors breek uit in Vrystaat
2009-10-30 08:27
Jóhann Thormählen
Bloemfontein - Nou vir die Curriebeker! Rugbykoors loop hoog in die sentrale streek van die land op die vooraand van Saterdag se groot stryd waarin die Vrystaat-Cheetahs – met die steun van die res van die land – die Blou Bulle in die Curriebeker-rugbyeindstryd takel.
Die Cheetahs speel om 17:30 op Loftus Versfeld teen die Blou Bulle in hul vyfde eindstryd in slegs ses jaar en is vasberade om hul aartsvyande wéér in Pretoria te troef.
Hoewel ’n blou see op die Cheetahs in die Jakarandastad wag, was oranje vlae en geverfde Cheetah-voertuie reeds van vroeër die week in Bloemfontein sigbaar.
Enkele dae voor die kragmeting was oranje ook van die Kaap tot in Pretoria aan die orde van die dag.
Selfs minder fanatieke rugbyondersteuners is deur oranje-koors aangesteek.
Die Cheetahs wil die grootste terugvegpoging in die geskiedenis van die Curriebeker-reeks vervolmaak deur die Ligbloues die loef af te steek.
Die Vrystaters het hul eerste vier wedstryde van die seisoen op ’n streep verloor, maar daarna, soos net die Wit Tornado kan, geweier om tou op te gooi.
Die Cheetahs het in hul laaste tien groepfase-wedstryde van die reeks 39 ligapunte opgestapel. Ná die eerste vier het hulle slegs een punt gehad.
Die 39 punte in die laaste tien is naas die Haaie die meeste deur enige span in die reeks in dié tydperk.
Boonop is die span se vertoningslys die afgelope dekade meer as een om op trots te wees.
Die Cheetahs het sedert 2004 elke jaar, behalwe verlede jaar, in die eindstryd gespeel en die beker in 2005, 2006 en 2007 verower.
- Volksblad
- Kliek hier om jou sê te sê oor die eindstryd, en lees ander se menings oor die wedstryd.