Oosthuizen wil 'n Wallaby word
2012-10-29 16:30
Canberra – Die nuwe Brumbies-aanwins Etienne Oosthuizen maak geen geheim van sy ambisie om eendag die Wallabies te verteenwoordig nie.
Die 19-jarige voorspeler, wat onlangs deur die Brumbies by die Leeus opgeraap is, het Maandag by sy nuwe spanmaats in Canberra aangesluit, het Rugby365.com berig.
Die reus van ‘n speler wat 120 kg weeg en 1,98 m lank is, het vroeër vanjaar ‘n aanbod van Jake White, voormalige Springbokafriger en huidige Brumbies-afrigter, aanvaar om sy loopbaan in Australië voort te sit.
“Die Brumbies het vir my ‘n fantastiese geleentheid aangebied,” het Oosthuizen gesê.
“Die skuif na Canberra is ‘n groot stap vir my en ek voel of dit die regte skuif was om te maak.”
“My doelwitte is om gereeld vir die Brumbies uit te draf en in die toekoms wil ek graag die Wallabies ook verteenwoordig.”
White het gesê hy is tot dusver tevrede met sy span se vordering.
“Elke speler is sy eie program gegee vir die af-seissoen en dit is goed om te sien dat almal in ‘n goeie toestand is,” het White gesê.
“Hierdie tyd verlede jaar was ons ‘n bietjie agter met ons fiksheid en ons het mekaar nog leer ken. Daar is nie vanjaar so baie nuwe gesigte nie en die ouens wat ons ingekry het is in ‘n goeie toestand, fisies en geestelik.”