Omstrede Brendan van Saracens skok met besluit
2010-12-01 10:12
Londen – Saracens se direkteur van rugby, Brendan Venter, het Dinsdag sy bedanking aangekondig.
Venter, wat aanstaande maand na Suid-Afrika terugkeer, het “gesinsredes” as die rede vir sy skokbesluit aangevoer.
Mark McCall, ’n gewese breier van Ulster en Castres, neem by Venter as direkteur van rugby oor.
Andy Farrell, wat vir Engeland se rugbyligaspan en die vyftienmankode gespeel het, is die eerste span se nuwe breier.
“Brendan, Annemé en hul kinders keer om gesinsredes na Suid-Afrika terug. As ’n klub wat hoë waardes aan gesinslewe heg, eerbiedig ons sy besluit,” het Saracens se voorsitter, Nigel Wray, gesê.
Saracens het verlede seisoen onder Venter se leiding in die eindstryd van die Engelse Premierliga gespeel, maar hy sal ook onthou word vir sy kritiek teenoor skeidsregters.
Hy is verlede maand met byna R240 000 beboet omdat hy die blaser geroskam het nadat Saracens teen Leinster verloor het.
Hy is vroeër ook beboet en geskors ná soortgelyke voorvalle.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.