Nuwe afrigter, nuwe sterre vir Bokke gesoek
2011-12-30 11:47
Johannesburg – 'n Vars begin wag op die Springbokke, wat in 2012 'n nuwe afrigter, kaptein, sterre en waarskynlik ook 'n nuwe speelstyl sal hê.
Die Springbokke sal volgende jaar 12 toetswedstryde speel, waarvan die eerste 'n reeks van drie tuiswedstryde teen Engeland sal wees.
Daarna sal toetswedstryde teen Argentinië, Australië en Nieu-Seeland volg.
Die tradisionele toer in November in Ierland, Skotland en Engeland sal ook plaasvind.
Intussen sê beamptes van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) 'n opvolger vir die hoofafrigter, Peter de Villiers, sal op 27 Januarie in Kaapstad bekendgemaak word.
'n Voorlopige lys van kandidate vir dié rol sluit in die voormalige Springbokflank Gert Smal, sowel as die afrigters Allister Coetzee, John Mitchell en John Plumtree.
Een van die eerste take van die nuwe afrigter sal wees om 'n opvolger te kies vir die afgetrede kaptein John Smit. Schalk Burger is 'n gunsteling om dié rol te vervul, terwyl Juan Smith se naam ook deur kenners genoem word.
Die senter Jaque Fourie en skrumskakel Fourie du Preez vertrek ook na Japan, terwyl die stut Gurthro Steenkamp en die slot Bakkies Botha in Frankryk sal speel. Plaasvervangers vir dié posisies sal ook so gou moontlik gevind moet word.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA