'Nou moet ons groei' – Meyer
2012-11-27 09:26
Johannesburg – Heyneke Meyer, die Springbok-breier, het Maandag in Johannesburg gesê hy is tevrede met sy span se vordering in 2012.
Meyer en die Springbokke het op OR Tambo-lughawe geland ná 'n toer van Brittanje en Ierland, waar die span al drie sy wedstryde gewen het.
“Ons het vanjaar net drie uit twaalf wedstryde verloor," het Meyer gesê.
Hy het volgens Sport24 gesê die span se vertoning dié jaar vergelyk baie goed met die spelpeil in vorige seisoene.
“Selfs as jy na van ons beste seisoene soos 2007 (Wêreldbeker-oorwinning) en 2009 (Britse Leeus-reekssege en Drienasies-kroon) kyk, het ons toe meer as vanjaar verloor," het hy gesê.
“Die All Blacks is steeds voor ons, maar ons het vierde op die ranglys begin en tweede geëindig. Nou moet ons daardie gaping (tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland) laat krimp en as ’n span groei,” het Meyer gesê.
Meyer het ook sy waardering vir die span se ondersteuners uitgespreek.
“Dit was regtig wonderlik om al die ondersteuning op Twickenham en vandag (Maandag) hier op die lughawe te sien,” het hy gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.