Nóg skok-bewerings oor Goue Leeus
2011-07-04 07:04
Johannesburg - Die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) is opnuut in die spervuur nadat die minister van sport, Fikile Mbalula, gesê het dat die beëindiging van die ooreenkoms tussen die GumaTAC-groep en die GLRU ’n terugslag vir transformasie is.
Mbalula het Sondag aan City Press gesê dat hy die ooreenkoms ten volle gesteun het.
“Ek het gedink dit het die potensiaal om rugby tot ’n nuwe vlak neem,” het Mbalula gesê.
Hy het bygevoeg dat hy later ’n volle verklaring sal uitreik, aangesien hy nog net deur een party (GumaTAC) ingelig is.
GumaTAC, wat einde verlede jaar ’n aandeel van 49.9% in die GLRU bekom het, het die vennootskap met die GLRU verlede week beëindig ná bewerings van bankrotskap en wanadministrasie.
In nog ’n verwikkeling het MTN, wat vroeër vanjaar ’n borg-ooreenkoms van R20 miljoen per jaar oor drie jaar met die GLRU gesluit het, te kenne gegee dat hy tydens môre se vergadering met die GLRU wil vasstel of die unie steeds transformasie en spelersontwikkeling in sy visie het noudat GumaTAC vort is.
GumaTAC se hoof, Robert Gumede, het nóg skokkende bewerings oor die GLRU gemaak, dié keer oor die beweerde gebrek aan mediese dekking.
“Ons het met Beast Mtawarira (Springbok-stut) se jonger broer (Ray Mtawarira) onderhandel om (vroeër vanjaar) vir die Leeus te kom speel,” het Gumede Vrydag tydens ’n mediakonferensie gesê.
“Tydens sy tweede dag hier het hy sy nek op drie plekke in ’n oefening gebreek. Ek het na Johannesburg gevlieg om die speler te besoek en raai waar het ek hom opgespoor? In die Helen Joseph-hospitaal.
“Dr. Liz (Leuenberger, ’n Leeus-spandokter) het uit haar eie sak betaal dat hy versorg word. Ek het niks teen staatshospitale nie, maar hoekom moet enige ma haar seun na die Leeus stuur as daar nie die beste mediese behandeling is nie?” het Gumede gesê.
Daar is toe gereël dat Mtawarira na ’n privaat-hospitaal oorgeplaas word en Gumede het glo R340 000 (met ’n kredietkaart) vir die behandeling betaal.
Mtawarira, wat voorheen aan die Sharks-rugbyakademie verbonde was, herstel glo goed.
Nog ’n voorval was toe die Nieu-Seelandse agterspeler James Kamana, wat ’n paar wedstryde vir die Lions se Super Rugbyspan gespeel het, sy been teen die Sharks in Durban gebreek het.
Hy het glo nie mediese dekking gehad nie en Guma sê hy het langs die veld vir ’n ambulans betaal. Dit het hom laat wonder tot watter mate die unie mediese dekking aan spelers voorsien. Hy was glo geskok oor die GLRU se antwoorde.
“Ons (Guma) het toe na ons vriende by Discovery gegaan.
Die enigste keer dat die uitvoerende hoof van die Leeus (Manie Reyneke) Discovery se span ontmoet het, was toe die ooreenkoms met Discovery aan die media bekend gestel is,” het Gumede beweer.
Die GLRU se president, Kevin de Klerk, het verlede week gesê hy gaan nie in die openbaar op Gumede se bewerings reageer nie. “Die Leeus het niks om weg te steek nie en ek verwerp enige aantygings van wanadministrasie,” het De Klerk Sondag in Rapport gesê.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg