Net ’n ou grappie, sê Brendan Venter
2010-12-18 08:00
Londen – Die oud-Springboksenter Brendan Venter sê hy het net ’n grappie gemaak en wou niemand beledig met sy bisarre televisie-onderhoud Saterdagaand met SkySports nie.
Venter, Saracens se direkteur van rugby, het kort nadat nadat sy span teen Racing Metro verloor het, elke vraag van die joernalis herhaal of uitdrukkingloos daarmee saamgestem.
Dié skreeusnaakse onderhoud is ’n baie groot treffer op YouTube en meer as 300 000 mense het reeds daarna gekyk
Maar die beamptes van die Heinekenbeker-reeks dink blykbaar nie so nie, want hulle het Venter die soveelste keer op die vingers getik.
Hy is vroeër ook beboet en geskors nadat hy beamptes gekritiseer het.
Venter, wat vroeg aanstaande jaar na Suid-Afrika terugkeer, sê hy het geen kwaad daarmee bedoel nie.
“Ons het onlangs na die satiriese rolprent Mike Bassett: England Manager gekyk terwyl ons met die bus na Gloucester gereis het.
“Dit was baie snaaks,” het Venter eergisteraand gesê.
“Ons het daaroor gesels en van die spelers het gesê ‘dís mos hoe ’n onderhoud gedoen moet word’.”
Volgens hom het die spelers gevra hoekom hy dit ook nie doen nie.
“Almal het gedink dit was ’n grap (Saterdagaand se onderhoud).
“Ek het nie bedoel om iemand aanstoot te gee nie.
“Ek het agting vir hulle (Heinekenbeker-komitee) en ek sal hulle nie met opset aanstoot gee nie.
“Ek sal dit beslis nie weer doen nie.”
Aan die einde het Venter wel daarop gesinspeel dat dit dalk ’n bietjie passiewe weerstand was.
“Kyk, ek is maar ’n bietjie ondeund. Maar dis omdat dit ’n voorreg is om te kan leef.
“Daar is baie ernstiger dinge as rugby. Dis net ’n sportsoort en nie lewe of dood nie.
“Ek het niemand afgejak of beledig nie en niemand het seergekry nie.”
Venter, wat in 1995 ’n lid van die seëvierende Springbok-span in die Wêreldbeker-toernooi was, het aan The Daily Telegraph gesê hy rig Saracens af soos hy daarvan gehou het om afgerig te word.
“Dit is om te debatteer. Moenie net daar in die hoekie sit en stilbly nie.”
“Dis hoekom dit so moeilik vir my is om stil te bly oor die skeidsregters se beslissings.”
Nadat Venter vroeër vanjaar beboet is ná sy kritiek teenoor die skeidsregters in die Engelse Premierliga, wou hy nie meer onderhoude toestaan nie.
Maar in die Heinekenbeker-reeks word afrigters kontraktueel daartoe verplig om onderhoude ná wedstryde toe te staan.
Venter sê ook dat hy geensins die joernalis, Martin Gillingham, wou afjak nie.
“Kyk, binne ’n paar minute nadat die eindfluitjie geblaas het, word jy voor die kameras gesleep en uitgevra oor die redes waarom jou span verloor het ... was dit die skeidsregter? Jy is ’n doodmaklike teiken.”
Saterdagaand se onderhoud het slegs 57 sekondes geduur ... nadat Venter nege vrae uitdrukkingloos beantwoord het.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger