Naka Drotské e-pos blasers
2010-10-14 07:26
Bloemfontein - Die Vrystaat-rugbyspan bevraagteken die skrumtaktiek waarmee die Westelike Provinsie sukses behaal en het selfs vandeesweek voor die Curriebeker-halfeindstryd ’n e-pos aan André Watson en Mark Lawrence daaroor gestuur.
Die Cheetahs sak Saterdag in die halfeindronde teen die WP op Nuweland in die skrum en Naka Drotské, Vrystaat-breier, het dit duidelik gemaak dat hy ’n regverdige voorry-stryd verwag.
Die Streeptruie het die Haaie se Springbok-voorry – Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis en Tendai Mtawarira – in die skrums laat les opsê, maar dit was dalk nie net omdat hulle sterker as die Durbaniete was nie. Volgens Drotské is sekere aspekte van die tuisspan se skrums verdag en het hy daarom ’n e-pos aan Watson, Suid-Afrika se skeidsregterbaas, en Lawrence, die fluitjieblaser in dié halfeindstryd, gestuur.
“Ek het klaar ’n e-pos aan André Watson en Mark Lawrence gestuur oor die sogenaamde slingshot engagement by die inslaan in die skrums. En ook oor die losvoorspelers van die WP wat ’n bietjie vroeg van die skrums af opbreek.
“Ek het ’n onderneming van Mark Lawrence en André Watson gekry dat hulle beeldmateriaal daarvan sal deurgaan. Dis vir ons belangrik,” sê hy.
Die sogenaamde slingshot engagement waarna Drotské verwys, beteken dat die agtsteman byvoorbeeld sy slotte terugtrek en vorentoe stoot voordat daar ingeslaan word.
Dit bring mee dat die span en sy voorry meer momentum kry wanneer hulle inslaan en vanweë ’n kettie-effek voordeel trek.
Volgens die reëls moet al agt spelers staties wees voordat daar ingeslaan word en mag geen beweging vorentoe of sywaarts plaasvind nie.
Indien ’n agtsteman se skouers op sy slotte gebind is, is dit feitlik onmoontlik om hierdie taktiek toe te pas.
Drotské is egter nie bekommerd oor hoe Lawrence by die skrums gaan blaas nie.
“Ek dink nie Mark Lawrence is baie tegnies met die inslaan-proses nie. Hy laat die spelers dit self bepaal en ons almal verkies dit so.”
- Intussen het die Cheetahs dieselfde span gekies wat die Luiperds met 78-7 afgestof het.
Die Bok-flank Juan Smith neem die kapteinskap by die haker, Adriaan Strauss, oor.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24