Mujati dalk 'speler 32' in Bok-span
2012-11-04 08:00
Kaapstad – Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, wil glo die Northampton Saints-vaskopstut Brian Mujati oproep as die laaste speler vir die span se toer van Ierland, berig Eyewitness News Sport.
Meyer moet egter nog bevestig wie die 32ste speler is wat by die span gaan aansluit.
Hoewel Mujati 12 keer vir die Springbokke in 2008 uitgedraf het, mag hy ingevolge reëls, wat verband hou met die keuring vir die nasionale span, nie vir die Bok-span gekies word nie, omdat hy nie 'n Suid-Afrikaanse paspoort het nie en 'n Zimbabwiese burger is.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) kon nie bevestig of die spanbestuur hom gevra het om vas te stel of Mujati nou beskikbaar sal wees en of hulle dalk die situasie met regeringsowerhede sal bespreek nie.
Allan Robson, hoof- uitvoerende beampte van Northampton, het gesê hy kan nie lig werp op die kwessie nie, en dat die klub nie direk gekontak is nie. Robson het egter gesê dit is moontlik dat die speler direk genader is.
Meyer het vroeër vandeesweek op 'n mediakonferensie gesê hulle is in gesprek met die "klub" van die 32ste speler oor moontlike keuring.
Indien Mujati nie gekies kan word nie, sal die Westelike Provinsie-ster Frans Malherbe waarskynlik as die laaste speler gekies word.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24Sport op Twitter