Mitchell-tugverhoor wéér uitgestel
2012-09-11 19:42
Johannesburg – Die tugverhoor van die geskorste Lions-afrigter John Mitchell is tot volgende week uitgestel, het Kevin de Klerk, president van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU), gesê.
“Die verhoor is tot volgende week uitgestel omdat die voorsitter siek is,” het De Klerk gesê.
Mitchell is einde Junie geskors na sy spelers gekla het oor sy bestuurstyl.
Hy is met Johann Ackermann vervang.
Die interne arbitrasieproses het sowat drie weke gelede begin en is Maandag weer hervat.
Mitchell se hulpafrigters, Carlos Spencer en Wayne Taylor, is ‘n maand na Mitchell se skorsing afgedank.
De Klerk het ook Dinsdag bygevoeg dat ‘n vergadering met voormalige spelers Vrydag goed afgeloop het.
“Ek het 78 oudspelers toegespreek en hulle ingelig oor die huidige stand van sake by die unie en wat ons vir die toekoms beplan,” het De Klerk gesê.
“Die terugvoering ná die vergadering was baie positief.”
Die Lions het onlangs uitgevind dat hulle nie volgende jaar Superrugby sal speel nie, ná Saru besluit het om die Southern Kings vir volgende jaar se Super-reeks in te sluit.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA