Mitchell: Curriebeker 'steeds sterk'
2011-07-12 22:13
Johannesburg – Die Lions is dalk die span wat die minste ontwrig is deur die aanvang van die Drienasies-reeks aan die begin van die seisoen, maar dié span se afrigter, John Mitchell, het Dinsdag daarop aangedring dat daar genoeg talent in die ABSA-Curriebeker is om daarvan ‘n bielie van ‘n toernooi te maak.
“Ek dink daar is ‘n wanopvatting oor die Springbok-situasie,” het Mitchell gesê.
“Daar sal steeds Springbokke en voormalige Springbokke wees in die spanne waarteen ons speel. Daar sal ook toekomstige Springbokke wees.”
Die Lions se veldtog in dié toernooi begin Vrydag op hul tuisveld teen die Pumas. Die Lions sal – anders as in vorige jare – enigiets minder as ‘n plek in die uitspeelstryde as ‘n algehele mislukking beskou.
‘n Moontlike struikelblok lê egter moontlik in dié unie se raadsaal-politiek, wat reeds aandag van die span se vooruitgang afgelei het.
Die Lions en hul miljardêr-beleggers, Guma TAC, se paaie het onlangs geskei.
Mitchell hou vol dat sy span slegs besorgd is oor aanhoudende verbetering op die veld en dat die fokus daarop is om bestendigheid met spankeuses in goeie uitslae te omskep.
“Ons moet aan die werk spring met die dinge wat nodig is om ‘n beter rugbyspan te word,” het Mitchell gesê.
“Ons het steeds ‘n lang pad om te gaan. Ons ontwikkel fisiek, ons ontwikkel geestelik en die meerderheid van ons kern het nou ‘n Curriebeker-toernooi en ‘n Super Rugby-toernooi beleef.”
Die Lions het slegs twee spelers – Butch James en Elton Jantjies – aan die Springbok-toergroep afgestaan.
- Vir die jongste Sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA