Michalak Haaie se held teen Pumas
2011-07-23 08:50
Nelspruit – Daar is Saterdagoggend in die Laeveld amper haaibiltong verkoop, maar die Curriebeker-kampioene, die Haaie, het Vrydagaand net-net met 23-22 deurgeskraap hier in die Mbombela-stadion teen ’n begeesterde Pumas-span.
Die bietjie meer as 6 000 toeskouers gaan nog lank oor dié rugbywedstryd gesels.
Dit was iets om te ervaar met albei spanne wat tot die einde alles gegee het vir ’n sege. Jou hart bloei eintlik vir die Pumas, wat skitterend was, maar soos verlede week teen die Leeus, dit nie kon maak nie.
Met vyf minute oor het die Haaie se loskopstut, Dale Chadwick, oorgebars vir ’n drie en die staatmaker-Fransman, Frederic Michalak, het onder groot druk met die doelskop geslaag om die Haaie met ’n enkele punt te laat wen.
Die wedstryd was aanvanklik ’n armdrukkery, met die spel wat hoofsaaklik tussen die twee kwartlyne beslis is.
Albei spanne was bereid om aan te val, maar die verdediging was rotsvas. Die Haaie het hulle teen ’n pienk muur vasgeloop en dit sou iets spesiaals verg om deur te kom.
Wel, as jy iets spesiaals soek, is Michalak jou man. Ná ’n halfuur se spel en die telling 9-9, het hy nadat die soveelste losbal gewen is, die rigting met ’n parmantige aftrap verander en met die Pumas wat wildtuin se rigting toe wou keer, binnetoe gedartel en onder die pale gedruk.
Soos hy sy Waterkloof-span geleer het, val Jimmy Stonehouse, afrigter, se Pumas ook vanuit diepte aan en skep so ruimte.
Die Pumas se plaasvervanger-senter, Coenie van Wyk, het sy span terug in die prentjie gebring deur rieme neer te lê en in die hoek oor te duik.
Sy losskakel, Tiaan Marx, se visier was dodelik ingestel. Hy het nie net vanaf die kantlyn verdoel nie, maar ook sy span neus laat voorkry (19-16) met ’n strafskop net voor rustyd.
Dit was toe die Haaie-haker, Craig Burden, die bal onwettig teruggekrap het in ’n losskrum. Die oogkundige van Mpumalanga, Mark Lawrence, wat baie strafskoppe uitgedeel het, se geduld het opgeraak en Burden moes koelkas toe.
Die Pumas het hierdie voordeel vroeg in die tweede helfte benut en kwaai aangeval en Marx se skopskoen het die voorsprong gerek.
Die Pumas het spel begin oorheers en selfs drie vaskoppe gehaak deur die Haaie op te frommel in die skrums.
In die laaste tien minute het die Haaie sterk teruggeveg.
Puntemakers:
Haaie 23 (16): Drieë: Frederic Michalak, Dale Chadwick. Doelskoppe: Michalak (2). Strafdoele: Michalak (3).
Pumas 22 (19): Drie: Coenie van Wyk. Doelskop: Tiaan Marx. Strafdoele: Marx (5).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24