Meyer wil verenigde SA speelstyl hê
2012-01-30 22:57
Pretoria – Die nuwe Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, sê een van sy grootste uitdagings sal wees om die land se Super Rugby-spanne op dieselfde bladsy te kry.
Meyer het Maandag gesê sy grootste doel sal wees vir al die spanne in Suid-Afrika om ‘n soortgelyke styl rugby te speel.
“In die toekoms sal ek ‘n nasionale speelstyl wil instel, asook verdediging en al die kenmerke wat daarmee saamgaan. Almal moet daarby inkoop,” het Meyer gesê.
“Ek is realisties en weet jy kan nie almal dwing om op dieselfde manier te speel nie, maar daar moet minstens ‘n gemeenskaplike doel en raakpunte wees.”
Meyer het gesê dit is van groot belang om die Super Rugby-afrigters as ‘n klankbord te gebruik, aangesien hulle daagliks met die spelers saamwerk.
Hy het gesê kommunikasie sal belangrik wees om ‘n goeie verhouding met die afrigters te handhaaf.
“Ek sou baie graag wou begin met ‘n omvattende beplanningsessie waarby ons ‘n nasionale strategie in plek kon stel met die manier waarop ons wil speel, maar in hierdie stadium is dit ‘n bietjie laat,” het hy gesê.
“My grootste mikpunt is om ‘n goeie werksverhouding met hulle te hê, aangesien hulle die spelers veel meer sien as ek. Dit is hoekom ek wil omgaan en tyd spandeer by die spanne om te sien wat hulle doen.”
‘n Goeie begrip van die “basics” sal altyd belangrik wees in rugby, het Meyer gesê, maar hy het gewaarsku dat Suid-Afrika moet aanpas by reëlveranderings en nuwe speelstyle as hulle nie wil agterbly nie.
“Een ding wat beslis sal verander, is die kondisionering van die spelers,” het hy gesê.
“Dit is ‘n langer seisoen en daar is meer wedstryde. Die wedstryde is ook vinniger... ek is baie besorg oor die kondisionering en dit is die grootste ding waarop ek wil fokus.”
Terwyl die toename in werklading en die gevaar van uitputting ‘n kwessie is, is Meyer meer besorg oor spelers se geestelike taaiheid.
“Die spangroepe word groter en ek dink ‘n mens moet spelers beter roteer op Super Rugby-vlak,” het hy gesê.
“Aan die ander kant is ek ‘n groot voorstaander van geestelike taaiheid en dit is soms waar ons dit verkeerd kry – hoe meer ons praat oor spelers wat uitgeput raak, hoe meer begin hulle dit glo.
“Ek wil hê my spelers moet geestelik taai is en wanneer jy die trui aantrek, moet daar geen verskonings oor hul kondisionering wees nie.
“Ons moet beter beplan. Daar is baie wat ons moet doen omtrent rehabilitasie en om die spelers beter te bestuur.”
Meyer het ook ‘n duidelike aanduiding gegee van hoe hy die kwessie van oorsese spelers wat die Springbokke verteenwoordig, sal hanteer.
“Die Heinekenbeker en ander kompetisies daar [Europa] is ook taai en daardie ouens is goed gekondisioneer, dit is net ‘n kwessie dat hulle op verskillende tye op top-spelpeil is,” het hy gesê.
“Ek het aan ‘n paar dinge gedink, hoe ons rondom dit kan werk, en jy het ook nodig dat die oorsese spelers daarby inkoop.
“Ek het ‘n paar idees wat ek met hulle en hul klubs wil bespreek en kyk of ons op ‘n wen-wen oplossing kan besluit.”
Hy het beklemtoon dat hy toegewyd is tot transformasie in rugby, maar het gesê dit moet ‘n prioriteit op alle vlakke van die sport wees.
“Ons moet almal saamwerk en ek is toegewyd tot transformasie. Soos mnr. Roux [Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru] gesê het, daar moet ook transformasie in die harte en gedagtes van mense wees.”
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA