'Meyer stel nie belang in swart Bokke'
2012-11-08 08:07
Johannesburg – Swart spelers móét vir die Springbokke gekies word as hulle goed genoeg is om op internasionale vlak rugby te speel, het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, Woensdag gesê.
"Die situasie is tans dat afrigters die minimum getal swart spelers in die span kies en dan daarna ontspan, wat beteken dat baie goeie spelers nie eers raakgesien word nie," het Mantashe gesê.
"Hoekom wag ons totdat daar geen ander spelers is nie. Die houding is dat breiers rugby as 'n wit sport beskou."
Mantashe, 'n vurige rugby-ondersteuner, het gesê dit blyk asof Heyneke Meyer onwillig is om swart spelers te kies wat 'n plek in die span verdien.
"My siening is dat die nuwe afrigter nie gretig is om swart spelers in die span te sit nie, selfs dié spelers wat reeds bewys het dat hulle die beste is."
Hy het gesê daar is genoeg talentvolle swart spelers wat Meyer op meriete alleen kan kies en dat daar iewers iets fout is as 'n talentvolle speler soos Elton Jantjies op die plaasvervangerbank moet sit.
Die vleuel van die Haaie Lwazi Mvovo en die WP-flank Siya Kolisi verdien ook 'n plek in die span volgens Mantashe.
Die veelsydige agterspeler Patrick Lambie draf Saterdag in die nr.10-trui in die Bokke se toets teen Ierland uit terwyl Morné Steyn op die plaasvervangerbank gekies is.
Mantashe het gesê hy glo Meyer het te veel vertroue in Steyn terwyl ander talentvolle spelers in sy skaduwee moet wag.
Allister Coetzee, afrigter van die WP, het gewys wat bereik kan word as 'n mens geloof in jou jonger spelers sit, het Mantashe gesê.
"Kyk na die WP wat die Curriebeker gewen het."
"Hy (Coetzee) het sy jonger spelers vertrou om die knoop deur te hak. Die nasionale afrigter moet dieselfde doen."
Afskoptyd vir Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Ierland in Dublin is om 19:30.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA