Maties steeds onkeerbaar
2013-02-26 07:14
Pretoria – Die Maties bly onoorwonne in die Varsitybeker-reeks ná hulle Maandagaand teen Tuks geseëvier het met 'n telling van 18-16, het Sport24 berig.
Dit was die span van Stellenbosch se eerste oorwinning in die LC de Villiers-stadion sedert die Varsitybeker-reeks in 2008 begin het.
Veral twee strategiese besluite aan die afrigtingskant het die deurslag gegee: Reniel Hugo, gewoonlik Maties se nr. 4-slot, is as agtsteman gekies, en daarmee het sy span ’n ekstra lynstaanspringer gehad.
Eerder as om van onder af teenstand te bied, het Hugo in die genoemde tye voor op Tuks se gooi gespring, besit omgekeer en die tuisspan se skerpste angel getrek.
Chris Rossouw, afrigter van die Maties, het teen die 60ste minuut sy tweede strategiese troefkaart gespeel toe hy omtrent sy ganse plaasvervangersbank eensklaps opgestuur het. Tuks het toe foute begin maak, en dít het Dean Grant in die 78ste minuut kans gegee om Maties se wenpunte van die skopkegel af aan te teken.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24Sport op Twitter.