Maties slag Puk se kind
2011-02-08 07:08
Stellenbosch - Sterkte aan die span wat vanjaar in die Varsitybeker-rugbyreeks teen die Maties speel as hulle 80 minute lank vlam vat.
Maandagaand hier in die Danie Craven-stadion het die kampioenspan lank tussen tweede en derde rat gewissel, maar steeds die Pukke verspot maklik met 32-6 geklop.
Die rustydtelling was 6-6 nadat die Maties ’n stuk of ses kanse om drieë te druk, verbrou het. Donald Stevens het die Maties twee keer laat voorloop met strafdoele en die Pukke het hulle laat geld toe Niell Jacobs twee skepdoele deur die pale geklits.
’n Mens kan van die Maties se poging in die tweede helfte aflei dat hul breier, Chean Roux, hul ore met die rustyd laat tuit het.
Hul het die tempo ’n paar trappies hoër geneem en die besige flank Helmut Lehman het binne twee minute afgerond om die momentum in hul guns te swaai.
Dat dit die Maties só lank geneem het om ’n drie te druk, is merkwaardig gegewe hoeveel beter hulle as die besoekers was. Hul afronding was swak, terwyl die Pukke se voorspelers ook vermelding verdien omdat hulle ’n paar keer daarin geslaag het om die tuisspan se dryfmaalbewegings te fnuik.
Tog moet ’n mens die Pukke se ambisie bevraagteken. Was die strategie om dié wedstryd met verdediging te wen?Hugo Kloppers het die tweede drie afgerond ná ’n puik aangee deur Louis Jordaan voordat die plaasvervangerstut Os Hamman oorgedryf het.
Tshotsho Mbovane het die laaste sê gehad met ’n wafferse aftrap. Die Maties verdien ook baie krediet vir hul skrumwerk en veral die loskopstut Johan Rotes moet uitgesonder word.
Nog uitslae:
Michael Green berig uit Port Elizabeth dat die ondersteuners van die Tukkies en die Madibaz duim moet vashou dat hulle spanne nie vorentoe weer so vrot sal speel soos gisteraand nie.
Die Tukkies het op ’n warm aand met 37-8 gewen, maar sal nes die Madibaz baie beter moet speel as hulle die ander spanne wil skrik maak.
Die Madibaz het die eerste helfte tot in die 30ste minuut nog goeie teenstand gebied, maar toe begin begin foute begaan op die verdediging.
- In Pretoria-Wes was die span van TUT stewig op pad na ’n eerste sege nóg oor UJ, voordat swak dissipline en ’n paar twyfelagtige skeidsregterbeslissings deur Archie Sehlako hul gepootjie het.
Die tuisspan was 20-6 voor, maar drie geelkaarte het die mat onder hulle voete uitgeruk en die besoekers van Auckland Park kon met 33-23 wen, skryf J.J.Harmse.
- In Bloemfontein was dit nie nie juis aanskoulik nie, maar die Ikeys het hul veldtog op ’n amper leë Shimlapark op ’n wennoot begin deur die Shimlas met 26-10 te troef.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24