Maties, Ikeys bobaas
2011-02-22 09:11
Pretoria - Die Maties het Maandag hier gewys hulle sluk swaar aan nederlae en dat hulle nie sommer hul Varsitybeker-titel gaan prysgee nie.
Hulle het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) maklik met 44-12 verslaan.
Die besoekers van Stellenbosch het die krane in die tweede helfte oopgedraai en TUT ’n les in rugbyvaardighede geleer.
Die Maroentruie het vyf drieë gedruk. ’n Strafdrie is ook aan hulle toegeken in die tweede helfte toe hulle eindelik begin ritme kry en rugby begin speel het waaraan ondersteuners van dié reeks gewoond geraak het.
Daarenteen het TUT maar weer die gewone kwale gehad, met ’n geelkaart wat ’n reeds steil bult in ’n berg verander het.
Sake in die eerste helfte was redelik gelykop, hoewel die tuisspan se taktiek om alles met krag reg te probeer kry, minder suksesvol was.
Die Kapenaars het eers ná ’n halfuur gaan druk ná goeie spel agterlangs en toe het die Maties se skrum, wat sy eweknie totaal oordonder het, dit vir Tertius Daniller moontlik gemaak om oor te val.
TUT se slot JJ Breet is kort voor rustyd in die hoekie oor.
In die tweede helfte het die Maties die skroewe stywer begin aandraai, danksy hul losskakel, André Kemp. Donald Stevens het net ná rustyd vir die Maties se derde drie oorgeval.
Die strafdrie is toegeken toe Louis Jordaan verhinder is om ’n drie te druk. Die TUT-vleuel Thom Seabela, wat Jordaan sonder die bal geloop het, is met ’n geelkaart van die veld gestuur.
Puntemakers:
Maties 44 (15): Drieë: Tythan Adams (2), Ryan Nel, Tertius Daniller, Donald Stevens, strafdrie. Doelskoppe: Stevens (3), André Kemp. Strafdoele: Stevens (2).
TUT 12 (7): Drieë: JJ Breet, Hansie Graaff. Doelskop: Ruan Boshoff.
Wie die Ikeys se hoofrugbyveld reg in die bek van ’n windtonnel gebou het, moet ’n pak kry. Maar wie in vanjaar se Varsitybeker-reeks teen die Ikeys speel, gaan waarskynlik ook ’n pak kry, skryf Marco Botha.
Daarvan kan die Madibaz (NMMU) getuig, nadat hulle gisteraand op Groote Schuur met 49-12 (rustyd 27-5) teen die Kaapse studente slae gekry het.
Die Ikeys het die eerste 40 minute met ’n fris wind in hul blaaie gespeel. Hul losskakel met die skerpskuttersnaam, Demetri Catrakilis, het presies dit met sy voet gedoen. Met die draaislag het hy vyf strafdoele en een doelskop behaal.
Een van die Ikeys se sterspelers, die nr.4-slot, Eben Etzebeth, het hul eerste drie gedruk.
Net voor rustyd het hul heelagter, Richard Rijs, gaan druk.
Ná rustyd het die Ikeys dit nóg makliker gevind om die bal teen die wind te hanteer.
Puntemakers:
Ikeys 49 (27): Drieë: Eben Etzebeth, Richard Rijs, Francois van Wyk, Nic Groom, Therlow Pietersen, Alexander MacDonald. Doelskoppe: Demetri Catrakilis (2). Strafdoele: Catrakilis (5).
Madibaz 12 (5): Drieë: Rick Kendrick, Ferdinand Gerber. Doelskop: Marius Muller.
Die UJ het op sy tuisveld die Shimlas met 28-24 geklop. In Potchefstroom het die Tukkies die Pukke met 35-10 afgeransel.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24