Matfield glo Du Preez moet Bokke lei
2012-05-31 07:32
Pretoria – Die voormalige Springbok-kaptein Victor Matfield glo om Fourie du Preez as kaptein vir volgende maand se toetsreeks teen Engeland te kies sal 'n "wonderlike keuse" wees.
Heyneke Meyer, Springbok-afrigter, het dit ernstig oorweeg om Matfield op te roep om die Springbokke te lei, maar 'n reël van die Internasionale Rugbyraad wat verband hou met uitgetrede spelers het hom verhoed om dit te doen.
Du Preez, wat tans in Japan vir Suntory Goliath uitdraf, is volgens die media die gunsteling om die volgende Springbok-kaptein te wees, maar daar is berig dat die skrumskakel weens kontraktuele verpligtinge nie in die eerste toets sal speel nie.
"Fourie sal 'n wonderlike keuse vir kaptein wees. Ek dink hy sal baie goed doen. Dit is belangrik dat die kaptein presies weet hoe Heyneke wil speel; hy sal sy stem op die veld wees.
"Hy is ook 'n fantastiese speler en almal respekteer hom," het Matfield aan Reuters gesê.
"In terme van taktiek is daar niemand beter as Fourie nie en hy is 'n man wat Heyneke sal vertrou. Die skopspel is steeds belangrik in internasionale rugby, maar Fourie laat ook die spel vloei."
Oor sy moontlike terugkeer na die rugbyveld, het Matfield gesê: "Die hoop om weer te kon speel was opwindend en dit was 'n ernstige moontlikheid. Maar dit is nie altyd 100% moontlik nie, ons het probeer om dinge in plek te kry, maar dit was nie toegelaat nie".
Die Springbok-span word Saterdag aangekondig.
– Volg Nuus24 Sport op Twitter
- Reuters