Mapoe-geveg draai wéér in hof
2010-09-07 06:48
Bloemfontein - Die Vrystaat-Cheetahs beplan verdere regstappe om die vleuel Lionel Mapoe se Springbok-aanspraak lewend te hou en hom so spoedig moontlik terug op die speelveld te kry.
Die besturende direkteur van die Vrystaat-Cheetahs, Harold Verster, het gister regstappe teen Mapoe en sy verteenwoordigers bevestig nadat ’n arbiter, adv. Bertus van Rhyn, die Blitsbok vroeër beveel het om hom dadelik in Bloemfontein vir Curriebeker-verpligtinge aan te meld. Verster wil egter nie verdere kommentaar lewer nie aangesien die saak volgens hom sub judiceis.
Ondanks Van Rhyn se uitspraak op 11 Augustus oefen ’n perdfris Mapoe steeds voluit saam met die Haaie in Durban. Maar die Haaie mag Mapoe nie sonder die Vrystaat se sertifikaat van vrystelling vir enige Curriebeker-aksie oorweeg nie.
Sy afwesigheid in die Curriebeker kan as ’n yslike terugslag vir sy Bok-aanspraak beskou word.
Geen twyfel bestaan dat Mapoe wel in die Bok-afrigter, Peter de Villiers, se planne vir die einde van die jaar se toer na Europa is nie.
’n Aksiefoto van hom en statistieke het reeds in die Bokke se mediagids vir die binnelandse toetse en Drienasie-reeks verskyn.
Die Bok-breier is so ernstig oor Mapoe se toekoms dat hy selfs onlangs ’n vergadering met die Vrystaat, Haaie en Mapoe in Johannesburg belê het om die geskil te probeer besleg. Dié vergadering is egter op die nippertjie afgestel.
Met die vleuel Bryan Habana wat nou met sy peil sukkel, kan Mapoe die Bok-breier ’n ander keuse op linkervleuel gee. Habana is ook een van die senior Bokke wat waarskynlik die einde van die jaar ’n ruskans gegun sal word om die deur vir Mapoe wyer oop te maak om toetsrugby te speel.
Volksblad verneem die Haaie oorweeg dit om ’n oordragbedrag aan die Vrystaat vir Mapoe se dienste aan te bied, maar dat die Vrystaters langtand daaraan sal byt, aangesien reeds vroeër daaroor gepraat is.
Die Vrystaat wil eerder hê dat Mapoe die Cheetahs in die pylvak van die Curriebeker moet versterk.
Mapoe se agent, Jan-Harm van Wyk, het gister aangedui dat hy eers later kommentaar oor die aangeleentheid sal lewer.