Mapoe, Jantjies pak hul tasse
2012-10-29 11:58
Kaapstad – Die twee staatmakers van die Leeus, Elton Jantjies en Lionel Mapoe, sal volgende jaar in die Superrugby-reeks vir onderskeidelik die Stormers en die Bulls uitdraf.
Mapoe, wat senter en vleuel kan speel, het ‘n leenooreenkoms met die Bulls bereik en sal met die Springbok JJ Engelbrecht vir ‘n plek in die nommer-13-trui meeding, het EWN Sport berig.
Jantjies, wat vanjaar sy Springbok-debuut gemaak het, se ooreenkoms met die Stormers is Sondag deur Thelo Wakefield, die WP-rugbyunie se president, bevestig, het Keo.co.za berig.
Met Demetri Catrakilis wat nou sy rugbyloopbaan by die OP Kings sal voortsit en onsekerheid oor Peter Grant se terugkeer uit Japan, is Jantjies die gunsteling om die Stormers se nommer-10-trui te dra.
Die WP-rugbyunie gaan glo ook probeer om Jantjies se skuif permanent te maak.
Albei spelers is die Springbok-groep ingesluit vir die toer na Ierland, Skotland en Engeland.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.