Luke op krukkelys; Rose kry nie kontrak
2012-02-22 10:02
Port Elizabeth – Die rugbyspan van die Oostelike Provinsie-Kings sal in sy aanslag op die Vodacombeker sonder Luke Watson wees.
Watson moet ’n minder ernstige skoueroperasie ondergaan en sal volgens die Kings-breier, Alan Solomons, vir ongeveer drie maande buite aksie wees.
Solomons het ook slegte nuus oor die senters Wayne Stevens en Jaco Bekker gehad.
Dié twee, wat ook verlede seisoen deur beserings geteister is, sal lank op die krukkelys wees.
Bekker is vir die seisoen uit as gevolg van ’n ernstige kniebesering. Hy is boonop onlangs deur ’n motorkaper met ’n mes in die rug gesteek wat amper sy een long gepriem het.
Stevens het verlede week teen die Sharks beserings aan sy kakebeen en oogbank opgedoen wat hom vir tot agt weke van die veld kan hou.
Die Kings se senter-situasie is nou taamlik kritiek. Siyanda Grey doen nog rehabilitasie ná sy kniebesering.
Dit beteken die Kings het eintlik net een erkende senter, Matthew Tayler-Smith, oor. Hy sukkel boonop glo ook met ligte lies- en dyspierbeserings.
Monty Dumond, Tiger Mangweni en Shane Gates kan in die middelveld uithelp.
Iewers sal die Kings nog ’n senter moet uitkrap – of dit nou by een van sy klubs of elders is.
Met Watson uit, behoort Darron Nell die kapteinskap te behou.
Hy speel tans slot, maar kan ook na flank of agtsteman skuif.
Op slot kan die Kings uit David Bullbring, Wayne van Heerden, Barend Pieterse, Joe Snyman en Reynier Bernardo kies.
Die Kings is ook steeds sonder die beseerde losvoorspeler Devin Oosthuizen.
Mpho Mbiyozo en Boetie Britz het die afgelope twee wedstryde saam met Vleis Engelbrecht ’n lostrio gevorm.
Jong losvoorspelers soos Siya Mangaliso en Thembelani Bholi kan ook in die Vodacombeker-reeks ’n kans kry om te speel.
Die Kings speel hul eerste wedstryd in dié reeks, op 10 Maart, teen die Argentynse Pampas in Potchefstroom.
- Die veelbesproke Earl Rose sal intussen maar weer sy vlerke moet sprei en ’n ander span soek om voor te speel.
Rose en die skrumskakel Dustin Jinka, wat op proefbasis by die Kings was, is nie deur die Kings kontrakte aangebied nie.
Die belowende vertonings van die jong Shane Gates op losskakel het Rose se doppie geklink.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24