Luiperds moet kies: Dop en tjop...of rugby
2011-07-12 08:59
Johannesburg – Kies: Dop en tjop – of rugbyglorie.
Só word die Luiperds-rugbyspan se spelers voor ’n keuse gestel deur hul afrigter, Leon Boshoff, wat sê daar is nie plek vir alkohol in ’n beroepsrugbyspeler se loopbaan nie.
En volgens Boshoff, wat einde verlede jaar as afrigter by Chaka Willemse oorgeneem het, steun sy spelers dié benadering.
Dié voormalige haker van Wes-Transvaal en die Leeus het van die nuwe benadering vertel toe sy spelersgroep vir die Curriebeker-reeks voorberei het.
“Ek het gesê as jy beroepsrugby wil speel, is drank uit. Klaar gepraat,” het Boshoff gesê.
“Toe het die ouens hul oë gerol en gesê hulle wil nog in die week ’n bietjie braai en ’n biertjie vat.
“Toe sê ek: ‘Manne, drank is uit. As jy uittree, kan jy weer drink, maar as jy drink, gaan jy nie hier wees nie.
“As jy Super Rugby wil speel, moet jy binne drie jaar jou stempel afdruk of jy is weg. Óf in óf uit. Ons het dit in ons kultuur begin inbring en die ouens koop in.”
Inwoners van Potchefstroom het glo al vir Boshoff gesê hulle sien die spelers net koeldrank drink as hulle in die dorp is.
“En ek kon dit nie glo nie. In Potchefstroom? Dit wys jou iets begin gebeur hier. Hulle moet weet: Jy het jou hele lewe oor om te kuier as jy regtig wil. Drink as jy klaar rugby gespeel het, maar gee jouself die kans om die beste van jou rugbyloopbaan te maak,” het die afrigter gesê.
Nou moet die Luiperds sonder skuimkoppe klaarkom.
Maar volgens Boshoff is daar liters vol talent in sy spelersgroep wat vasbeslote is om ’n herhaling van verlede seisoen, toe die span laaste op die Curriebeker-puntelys geëindig het, te vermy.
’n Paar spelers het groter unies vir die Luiperds verruil in die hoop om meer speelkans te kry.
“MB Lusaseni, ’n flank, is baie belowend. Ek het een wedstryd van hom verlede jaar (vir Griekwas) teen die Leeus gesien en hom toe onmiddellik gekontrakteer,” het Boshoff gesê.
“Die nuwe agtsteman Morné Hanekom gaan ’n uitstekende skakel tussen voor- en agterspelers wees en dan het ons ook die Leeus se witkop-flank Renaldo Bothma gekry.
“Hy was hul vonds van verlede jaar – ek kan eintlik nie glo hulle het hom laat gaan nie.”
Die senter Joubert Engelbrecht is ook terug in Potch nadat hy deel van die Lions se Super Rugby-oefengroep was.
“En dan het ons Charl Weideman as ’n binnesenter gekry. Dié twee senters vul mekaar goed aan en ek dink hulle kan ’n Jean de Villiers-Jaque Fourie-kombinasie word,” het Boshoff gesê.
“Ons nuwe heelagter, George Tossel, gaan ook die tonge los hê. Hy weeg 107?kg en is goed onder hoë skoppe.
“En moenie vergeet van Brendon Snyman nie. Hy het 22 professionele boksgevegte in die kryt gehad en ek dink hy is die sterkste slot in die land, al was hy een wat laat ontwikkel het,” het hy van dié voormalige Griekwas-speler gesê.
En Boshoff se lys is nóg langer. “Ons het die loskopstut wat in die volgende Wêreldbeker-toernooi gaan speel, BG Uys. Skryf maar gerus oor hom.”
Boshoff word bygestaan deur die nuwe agterspeler-breier, Burger van der Westhuizen, wat DP Swart vervang het.
Boshoff het gesê sy span mik daarna om minstens sesde in die Curriebeker-reeks te eindig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24