Ludik, Alberts in Lions-groep
2009-11-04 06:48
Johannesburg - Die Lions het gister hul vasbeslotenheid om Willem Alberts en Louis Ludik te behou duidelik gemaak toe dié twee spelers in die oefengroep vir die Super14-rugbyreeks in 2010 ingesluit is.
Alberts en Ludik word ywerig deur die Haaie gesoek ná die Jaque Fourie-kontrakdebakel, wat tot gevolg gehad het dat dié Bok-senter die Goudstad vir Kaapstad gaan verruil.
Maar Alberts en Ludik is gister saam met 59 ander spelers ingesluit vir die Lions se aanvanklike oefengroep.
Die groep sluit ook in nuwe aanwinste soos Griekwas-spelers Jacques Lombaard (slot) en Jonathan Mokuena (agtsteman) en die Blou Bulle Burton Francis (losskakel) en Marius Delport (senter), asook Deon van Rensburg (senter) en Tonderai Chavhanga (vleuel).
Chavhanga en Ludik is albei tussen ’n groep spelers wat rehabilitasie moet ondergaan om van hul beserings te herstel.
Ludik se rehabalitasie duur nog drie maande, terwyl Chavhanga (3, 4 weke), Jano Vermaak (2, 3 maande), Earl Lewis (2, 3 weke), Gert Muller (6, 8 weke) en Johan Snyman (3, 4 maande) ook op die beseringslys is.
Die Lions se twee Springbokke, Earl Rose en Heinke van der Merwe, sal ná die Bok-toer by die groep aansluit.
Die Luiperds het drie verteenwoordigers in die groep met Thabo Mamojele (flank), Draad Linde (slot) en Ligtoring Landman (slot) wat die paal gehaal het.
Die Pumas-kaptein Hannes Franklin (haker) en die belowende slot Marius Coetzer is ook in die groep.
Johan Ackermann, die nuwe voorspeler-afrigter, sal saam met die Curriebeker-afrigter, Hans Coetzee, en Gerhard Jordaan na die Lions se Super 14-voorbereidings omsien terwyl die direkteur van afrigting, Dick Muir, saam met die Springbokke op toer in Europa is.
Die groep het vandeesweek reeds met hul voorbereiding vir 2010 begin.
Die Lions se groep is:
Agterspelers: Alex Kock, Chris Jonck, Herkie Kruger, Ruan Boshoff, Divan Kotzé, Jody Rose, Earl Rose, Allistair Siegelaar, Dusty Noble, Michael Killian, Henno Mentz, Johan Jackson, Wigan Pekeur, Jannie Boshoff, Justin St Jerry, Pieter Engelbrecht, Alwyn Hollenbach, Doppies la Grange, Rouan Cloete, Shandré Frolick, Warren van Rooyen, Walter Venter, Marius Delport, Deon van Rensburg, Burton Francis (almal Leeus).
Voorspelers: JC Janse van Rensburg, Kevin Buys, Wayne Swart, Lawrence Sephaka, Ross Geldenhuys, Charl de Plessis, Heinke van der Merwe Hans van Dyk, Derek Harwood, Nico Luus, Wouter Moore, Franco van der Merwe, Jannes Labuschagne, Jacques Lombaard, Jeffrey Taljaard, Willem Alberts, Cobus Grobbelaar, Jonathan Mokuena, Derick Minnie, Johan van Deventer, Robert Kruger, Danie Crous, Thuliphatu Marole, Warren Whiteley, Justin Wheeler, Stephan Kruger, Mina Nassif (almal Leeus), Draad Linde, Ligtoring Landman, Thabo Mamojele (Luiperds), Marius Coetzer, Hannes Franklin (Pumas).
- Die Burger