Louis Vrystaat se held teen WP
2010-08-28 09:37
Kaapstad - Louis Strydom se skopskoen, aggressiewe verdediging en venyn op die aanval.
Dít was gisteraand die resep waarmee die Vrystaat ’n skokoorwinning van 29-24 oor die Westelike Provinsie in hul Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland behaal het.
Strydom, die besoekers se losskakel, het 19 van hul punte met sy stewel aangeteken, terwyl skouspelagtige drieë deur Kabamba Floors en Jongi Nokwe binne drie minute in die tweede helfte deurslaggewend was.
Maar die Vrystaters het eers deeglik die grondslag gelê.
Hulle het die bal wyer as die WP gerek en veral in die eerste helfte baie goed verdedig.
Boonop is die tuisspan se baldraers dikwels agter die voordeellyn gestuit.
Vir die WP was daar reeds voor afskop slegte nuus nadat Tim Whitehead se dyspierbesering hom uit die beginspan gehou het.
Dit het beteken dat Frikkie Welsh as buitesenter ingespan is en JJ Engelbrecht vleuel gespeel het.
Dit kan nie as ’n verskoning aangevoer word nie, want die WP het reeds vroeër vandeesweek geweet dat Whitehead moontlik nie sou speel nie.
Wat wel ’n feit soos ’n koei is, was dat ’n gebrek aan vindingrykheid die WP se groot probleem op die aanval is.
Boonop het die tuisspan hul Springbok-haker, Tiaan Liebenberg, in die 22ste minuut na ’n besering verloor.
Dit het gevolg na ’n belowende eerste paar minute waar dit gelyk het of Gio Aplon vir die WP die voortou sou gee ná ’n bietjie flink dinkwerk tussen hom en Dewaldt Duvenage.
Maar daar is deur die TV-skeidsregter beslis dat Aplon uitgetrap het.
Voeg hierby Liebenberg se besering en ’n onverwagse verbroude strafskop deur De Waal en jy kry die prentjie van ’n eerste helfte waar dinge net nie wou vlot vir die tuisspan nie.
Strydom het op sy beurt die WP vir elke oortreding binne trefafstand laat les opsê en die uiteinde was dat die Vrystaters met rustyd welverdiend met 12-3 voor was.
Die WP-breier, Allister Coetzee, se spanpraatjie het net vlugtig die verlangde uitwerking gehad.
Die Streeptruie het met mening in die eerste 10 minute ingeklim en Adriaan Fondse het uiteindelik oorgebeur.
De Waal se doelskop het dit 10-12 gemaak.
Die WP het ’n paar keer in die tweede helfte op kritieke tye in mekaar se pad op die aanval gekom.
Puntemakers:
Vrystaat 29 (12): Drieë: Kabamba Floors, Jongi Nokwe. Doelskoppe: Louis Strydom (2). Strafdoele: Strydom (5).
WP 24 (3): Drieë: Adriaan Fondse, Gio Aplon, Duane Vermeulen. Doelskop: Willem de Waal (3). Strafdoel: De Waal.
- Beeld