Loftus se Loerbroer een dronkie se tier
2010-10-04 08:21
Pretoria - Loftus Versfeld se Loerbroer-stelsel het Saterdag sy eerste slagoffer geëis.
Hugo Kemp, stadionbestuurder, het gesê dié stelsel, waarvolgens toeskouers per SMS kan kla oor pretbederwers se gedrag, het goed gewerk.
Die probleemkolle kan met ’n kamerastelsel dopgehou word.
Hulle het 12 klagtes op dié manier gekry. Daarvan was vier van grapmakers wat iets oor die skeidsregter te sê gehad het.
Die Blou Bulle het die Westelike Provinsie met 36-32 in ’n Curriebeker-wedstryd geklop.
Kemp het gesê die manier waarop hulle klagtes hanteer, is om na die probleemtoeskouers te gaan en eers met hulle te praat.
In 90% van gevalle is dit genoeg om die probleem op te los.
Eergister was daar een drinker aan wie daar nie salf te smeer was nie en hy is verwyder.
Kemp het gesê die stelsel is nog in sy kinderskoene en daar sal nog aanpassings gemaak word.
Hulle dink byvoorbeeld nog oor die manier waarop die SMS-nommer op die skerm geflits en oor hoe dikwels dit gedoen moet word.
Hy het gesê hulle het baie goeie terugvoeringing van die toeskouers gekry.
- Beeld
- Beeld