Lions tevrede met diepte onder voorspelers
2012-02-02 20:55
Johannesburg – Johan Ackermann, assistent-afrigter van die Lions, sê hulle sal uiteindelik ‘n sterk pak voorspelers aan die begin van die Super Rugby-seisoen hê.
Die Lions het in onlangse jare min diepte op slot gehad, maar het uiteindelik meer diepte in dié posisie gevind.
“Ons het nou ‘n paar harde werkers in Wikus van Heerden, Michael Rhodes, Hendrik Roodt, Stephan Greeff en Marius Coetzer,” het Ackermann gesê.
“Ons het ook twee huidige SA onder-20 ouens, Paul Willemse en Ettiene Oosthuizen.”
Ná ‘n nederlaag van 28-6 teen die Stormers in ‘n voorseisoense opwarmingwedstryd verlede Vrydag het Ackermann gesê die Lions is nog ver van klaar voorbereid.
“Ons basiese balvaardighede het verroes gelyk, ons het ‘n paar balle in die kontaksituasie verloor en ons lynstane het ook verroes gelyk.”
Ackermann glo egter hulle sal van dié probleme kan uitstryk voor hul eerste Super Rugby-wedstryd teen die Cheetahs in Johannesburg.
Die Lions is getref deur beserings aan van hul belangrike spelers. Die mees onlangse terugslag is ‘n kniebesering wat die senter Dylan des Fountain opgedoen het. Hy kan tot ses maande lank op die krukkelys wees.
Ander bekommernisse oor beserings sluit in die spelskepper Elton Jantjies, wat ‘n beentjie in sy hand gebreek het, en die skrumskakels Ross Cronje en Wesley Moolman, wat albei met beserings sukkel.
Volgens Ackermann sal al die beseringsprobleme binne die volgende maand aangespreek word.
“Natuurlik wil jy so min as moontlik beserings hê, maar ons moet net deur dit werk – dis waar jou diepte sal tel.”
Daar is gesonde mededinging onder die voorspelers en Ackermann het die voorbeeld van Pat Cilliers, wat onder druk is van Jacobie Adriaanse vir die posisie van vaskopstut, gebruik.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA