Lions se grootbaas voer iets in mou
2010-04-27 19:58
Pieter Jordaan
Johannesburg - Die Goue Leeus Rugbyunie wil so gou moontlik sy spelerskorps én afrigtingspan versterk om die voortslepende gesukkel op te los.
Dit is moontlik, glo die unie se president, Kevin de Klerk, en nuwe borgskapooreenkomste wat die unie eersdaags kan sluit, kan die paadjie daarvoor plavei.
De Klerk het die uniebestuur die naweek byeengeroep nadat die Lions weer sleg op hul neuse gekyk het toe die Bulls hulle met 51-11 op Loftus Versfeld afgeransel het.
“Ons sal altyd probeer om die proses te verbeter. Ons het planne met borge om ons strukture te versterk en ons gaan manne inbring om die span sterker te maak. Ek het nietemin steeds groot lof vir die durf van ons jong manne,” het De Klerk gesê.
Die nederlaag teen die Bulls was die Lions se 10de uit 10 wedstryde vanjaar.
Met die Southern Kings wat hul stem al hoe dikker maak sodat hulle in 2011 reeds in die vergrote Super15-reeks kan speel, moet die Lions se vertoningslys juis die ondersteuners senuweeagtig maak.
Die Kings se insluiting kan moontlik ten koste van ’n ander Suid-Afrikaanse streekspan kom.
“Ons is natuurlik bekommerd daaroor. Maar as jy kyk na waar hul spanne (Oostelike Provinsie, Grens en die SWD-Arende) in hul ligas staan, glo ek hulle (die Kings) het nog ’n geweldige pad om te stap,” het De Klerk gesê.
“Ons sal nooit verskonings soek nie. Maar as jy kyk hoe min internasionale spelers ons teenoor die Bulls en die Stormers het, is ons nog baie beperk. Maar ons sal planne beraam.”
De Klerk glo ook die Lions is teen die Bulls op kritieke tye deur beserings ontwrig. Een van hul slotte, Franco van der Merwe, en die haker, Hans van Dyk, het vroeg reeds die veld verlaat. Die stut Gert Muller en die heelagter, Carlos Spencer, is ook vroeg vervang.
Die Lions was met rustyd nog net met vier punte agter en dit het gelyk of hul verdediging met rasse skrede verbeter het. Ongelukkig was die tweede helfte ’n nagmerrie.
Met wedstryde teen die Blues (tuis), Western Force (tuis) en die Cheetahs (weg) sal die Lions se ondersteuners begin vrees dat dit ’n segelose seisoen gaan wees.
Dick Muir, die Lions se afrigter, weet ’n reuse-taak wag.
- Sport24