Lions kondig wedstryde vir volgende jaar aan
2012-10-25 17:45
Johannesburg – Ruben Moggee, uitvoerende hoof van die Goue Leeus se rugby-unie, het gesê die Lions se internasionale wedstryde vir 2013 is nog nie bevestig nie.
Die Leeus het vroeër die week ‘n vergadering met losie-eienaars, raadslede en voormalige spelers gehou waar hulle die unie se pad vorentoe bespreek het nadat hulle uit Superrugby gerelegeer is vir volgende jaar.
Die Leeus was trots om te kan aankondig dat hulle volgende jaar wedstryde teen Samoa, Rusland, ‘n internasionale Barbarians-span, Europese klubspanne en Amerikaanse spanne gaan speel.
Hulle sal ook wedstryde teen die Bulls, Stormers, Sharks en die Cheethas speel.
Moggee het egter aan Keo.co.za gesê die wedstryde is nog nie almal bevestig nie.
“Slegs die wedstryde teen die Suid-Afrikaanse spanne is al bevestig. Ons gaan teen twee plaaslike spanne speel voor die Superrugby-toernooi afskop, en dan teen nog twee tydens die internasionale breuk in Junie,” het Moggee gesê.
“Die terugvoering van die internasionale klubs is ook tot dusver baie positief, veral vanaf die Europese klubs. Hulle sien dit as ‘n geleentheid om iets anders by hul skedule by te voeg. Ons is al die afgelope maand besig met onderhandelings.”
Moggee glo dat die wedstryde binne die volgende twee weke gefinaliseer sal word.
Al die wedstryde sal glo op SuperSport uitgesaai word en die meeste van die wedsrtyde sal op Ellis Park plaasvind.
Hulle sal heel moontlik na Amerika toer om die teen die spanne daar te speel.
Intussen word daar verwag dat nog twee Leeus spelers hul leenooreenkomste in die nabye toekoms sal bevestig.
Lionel Mapoe is besig om ‘n ooreenkoms met die Bulls te finaliseer terwyl die loskakel Elton Jantjies met die Stormers onderhandel.
Sien die Leeus se waarskynlike skedule vir volgende jaar hier
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.