Lions-deur toe vir Frans
2011-06-09 23:02
Johannesburg – Die Lions-afrigter, John Mitchell, het Donderdag bevestig daar was nog geen praatjies tussen dié unie en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) om Racing Metro se Frans Steyn in hul groep te kry voor vanjaar se wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland nie.
Of Steyn ‘n paar Curriebekerwedstryde sou speel, is debatteerbaar.
Indien die Springbok-keurders egter sou wou hê hy moet ‘n bietjie wedstrydoefening by die Lions kry, is dít ‘n deur wat nou toegemaak is.
“Ek het beslis nog nie van Peter (De Villiers, Springbok-afrigter) gehoor nie,” het Mitchell gesê.
“Hy weet wat my selfoonnommer is en ek het nog niks gehoor nie.
“Maar... dit is in elk geval heeltemal te laat. Die Lions-kultuur is veel belangriker as die navraag van ‘n individu.”
De Villiers het vroeër aangedui dat hy graag sou wou hê Steyn moet by dié Johannesburgse span aansluit.
Steyn sal na verwagting die Springbokke se heelagter by die wêreldbekertoernooi wees, maar het reeds ‘n verbysterende 2 000 minute (gelyk aan 25 wedstryde van 80 minute elk) vir Racing Metro dié seisoen gespeel.
Gevolglik dring Saru daarop aan dat hy vier weke lank rus nadat sy pligte by dié Franse klub afgehandel is.
Steyn is ook by die Springbok-oefengroep van 37 spelers ingesluit wat Sondag in Durban saamtrek vir die tweede van drie strategiekampe voor die wêreldbekertoernooi.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA