Leeus se wen soos reën in woestyn
2010-08-16 08:29
Johannesburg - Vir die meeste Leeus-ondersteuners was Saterdag se oorwinning van 30-26 oor die Vrystaat-Cheetahs soos reën in die woestyn.
Behalwe vir ’n oorwinning oor die Luiperds in Julie het die Leeus se rugbyspan nog geen belangrike wedstryd in 2010 gewen nie.
Daarom is dit vanselfsprekend dat die Curriebeker-sege vir talle met groot verligting gepaard gaan.
Maar nie vir John Mitchell, die Leeus se afrigter, nie.
In die Leeus se voorafgaande vier nederlae was die span se vertoning, eerder as die uitslag, vir Mitchell belangrik en die dramatiese oorwinning oor die Vrystaters het dinge nie verander nie.
“Dit is nie verligting nie. Dit gaan vir my meer oor waar ons op die oomblik is.
Ná die eerste vyf weke het ons verdien waar ons op die punteleer was.
“Vandag (Saterdag) het ons by die basiese dinge gehou en die span was bereid om te werk vir ’n oorwinning en daarom was dit welverdiend,” het Mitchell gesê.
Dit is veilig om te sê dat die Leeus ’n tree of wat vorentoe gegee het met dié oorwinning.
Met wedstryde teen die Pumas en die Luiperds volgende op die Johannesburgers se program, is daar ’n gulde geleentheid om hul selfvertroue ’n verdere hupstoot te gee.
By die Leeus word daar – van die spelers tot die bestuurslede – net goeie dinge oor Mitchell gesê.
Sy werketiek en aandrang op dissipline het reeds fokus teruggebring in dié span wat onlangs nog rigtingloos voortgeploeter het.
Saterdag was dit die 20-jarige losskakel, Elton Jantjies, wat gewys het dat Mitchell reg was om hom as die Leeus se “losskakel-toekoms” te bestempel.
Sy 20 punte het ’n drie ingesluit.
Volgens Mitchell help dit baie om die voormalige All Black-losskakel Carlos Spencer as agterspeler-afrigter en mentor tot Jantjies se beskikking te hê.
Jantjies se drie, met vyf minute se speeltyd oor, het die Leeus se agterstand van 16-26 tot 23-26 laat krimp.
En toe volg die beslissende oomblik.
Die vleuel Michael Killian is soos blits deur ’n gaping en toe hy vorentoe skop, het die bal vir hom én die Vrystaatse verdedigers verkeerd gespring.
Dit is deur Jannie Boshoff, wat as plaasvervanger sy terugkeer ná ’n besering gemaak het, opgepik en hy het die wendrie gaan druk.
Dit was ’n terugslag vir die Cheetahs wat vyfde op die puntelys bly.
Vroeër het Ashley Johnson vir die besoekers gaan druk en Kobus Calldo se drie het die Cheetahs ver genoeg voorgeplaas om te glo ’n oorwinning wag.
Puntemakers:
Leeus 30 (13): Drieë: Deon van Rensburg, Elton Jantjies, Jannie Boshoff. Doelskoppe: Jantjies (3). Strafdoele: Jantjies (3).
Vrystaat-Cheetahs 26 (9): Drieë: Ashley Johnson, Kobus Calldo. Doelskoppe: Louis Strydom, Meyer Bosman. Strafdoele: Stry- dom (4).
- Sport24