Leeus se kaptein raak ontslae van sy maanhare
2011-10-30 12:17
Kaapstad – Die Goue Leeus se kaptein, Josh Strauss, het uiteindelik besluit om sy baard af te skeer ná sy span se oorwinning oor die Haaie op Coca-Cola Park in Johannesburg Saterdag.
Die Goue Leeus het met ‘n reuse-telling van 42-16 vir die Haaie gewys wie is baas en het vir die eerste keer sedert 1999 met die trofee weggestap.
Strauss se baard was ‘n groot gesprekspunt die afgelope tyd, met die nommer agt wat verskeie kere tydens die seisoen gevra is wanneer hy beplan om van die boskaas ontslae te raak.
Saterdag se Curriebeker-sukses blyk die antwoord te wees en Strauss het met ‘n baie skoner gesig in die aantrekkamers verskyn ná hul oorwinning Saterdagaand.
Die leeus se reserwe-senter Dylan des Fountain het vroeg Sondagoggend ‘n foto op die sosiale netwerk Twitter gelaai waarop Strauss se spanmaats sy baard vir hom afskeer.
Hul spanmaat Waylon Murray het ook 'n foto op Twitter gelaai waar hy sê: "Die nuwe Josh Strauss!!!!"
– Sport24
– Vir die jongste Sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter