Leeus se beker-brul
2011-10-23 07:06
Johannesburg – Daar was die afgelope paar jaar heelwat wedstryde wat Leeus-ondersteuners laat wonder het of hul span ooit weer die Curriebeker sal wen?
Hulle wonder nie meer nie.
Johannesburg skud sy vere reg vir ’n eerste Curriebeker-eindstryd hier sedert 2002 nadat sy span die Westelike Provinsie met honger, dapperheid en mannemoed in trane terug Kaapstad toe gejaag het.
Vir die Kapenaars was nie eens hul Bok-inspuiting genoeg teen die veglustige tuisspan nie. Die Leeus het met 29-20 gewen en het die Streeptruie al vroeg in die wedstryd só begin wurg dat daar net geen uitkomkans vir die besoekers was nie.
Dit is al ’n bekende ou storie vir diegene in die Kaap: ’n WP-agttal wat op kritieke tye tot oorgawe gedwing word.
Op die manier het die Leeus die tafel in die eerste helfte reeds gedek vir ’n dag van Hoëveldse heldedade.
John Mitchell, afrigter van die Leeus, het in die week gesê sy teenvoeter vir Schalk Burger is dat hy oor “drie Schalk Burgers” in sy lostrio beskik.
Gister was dit gedeeltelik waar, want met Wikus van Heerden en Franco van der Merwe wat ’n barshou in die los gespeel het, het die Leeus saam met die drie losvoorspelers vyf “Schalk Burgers” gehad.
Die regte Schalk Burger was ook oral te sien... in WP se agterlyn altans.
Hy bly ’n knap baldraer, maar intussen is sy span by die afbreekpunte afgeknou, met die rateltaai Derick Minnie en Michael Rhodes vuurwarm.
Rhodes, een van die Leeus se groot uitblinkers hierdie seisoen, was ook prominent in die oomblik wat die eerste helfte opgehelder het: Jaco Taute se drie.
Taute was vanjaar die beste aanvaller in die Curriebeker-reeks en wou nie toelaat dat iemand soos WP se Gio Aplon sy kollig kom steel nie.
Eers Taute, toe Rhodes en Deon van Rensburg het die bal hanteer en WP teen die kantlyn aan die slaap gevang. Van Rensburg, wat Saterdag sy beste wedstryd nóg gespeel het, het die laaste aangee vir Taute gegee.
Van Rensburg het ook tydens die wedstryd twee balle op die grond gebuit en was in ’n ander klas as sy regstreekse teenstander, Bryan Habana.
Demetri Catrakilis se skopskoen het WP se agterstand teen rustyd na sewe laat krimp, maar hulle was onder druk danksy Minnie-hulle se lang vingers, die manier wat die Leeus-middelveld oor die voordeellyn gebars het en Elton Jantjies se dodelike skopskoen.
Druk, druk, druk. En wat doen dit? Ja, sowat sewe minute ná rustyd het WP geswig toe die skrumskakel Nic Groom die bal in die Leeus se ander vleuel, Michael Killian, se hande gegooi het vir ’n onderskepdrie in die hoekie.
Die WP moes die wedstryd daarna desperaat jaag, maar die Leeus was honger vir ’n sege en het nie laat los nie.
Die tuisspan se Alwyn Hollenbach en Doppies la Grange het Saterdag meer soos die Springbok-senterpaar gelyk as hul regstreekse teenstanders. Hulle het met plettervatte ’n ondeurdringbare muur in die middelveld vir die Leeus gevorm.
’n Laat WP-drie het die agterdeur vir die Kapenaars op ’n skrefie oopgehou, maar desperate verdediging deur die Leeus het verhoed dat die Streeptruie weer hul doellyn kon oorsteek.
Die Leeus het met dié sege bevestig dat hierdie span van John Mitchell inderdaad aan die begin van ’n goue era staan.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24