Leeus-ooreenkoms met Gumede-hulle 'ongeldig'
2011-05-15 08:46
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het die afgelope week die aandeelhouer-ooreenkoms tussen die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) en sy twee sake-vennote, Robert Gumede en Ivor Ichikowitz, ongeldig verklaar.
Volgens ingeligte bronne is die ooreenkoms wat die GLRU met Gumede-hulle gesluit het, strydig met Saru se grondwet.
Manie Reyneke, uitvoerende hoofbeampte van die GLRU, het Saterdag by navraag aan Sport24 bevestig dat Saru die Gautengse rugbyunie se aandeelhouer-ooreenkoms met die IT-miljardêr Gumede en internasionale sakeman Ichikowitz nietig verklaar het.
Volgens Reyneke vergader die GLRU se uitvoerende bestuur Woensdag om die pad vorentoe te bespreek.
Rapport verneem dat Gumede-hulle glo volgens die afgekeurde aandeelhouer-ooreenkoms beheer van die GLRU sou gehad het en dat die unie na regte na hul pype sou moes dans.
Volgens Saru se grondwet mag geen buite-aandeelhouer beheer oor ’n rugbyunie hê nie.
Gumede-hulle sou glo ses verteenwoordigers teenoor die GLRU se vier gehad het in die raad wat na die GLRU se sake omsien.
In rugbykringe word die vraag lank reeds gevra wie werklik by die GLRU in beheer van sake staan vandat Gumede en Ichikowitz verlede jaar ’n aandeel van 49,9% in die unie gekoop het.
Vroeg verlede maand het dit boonop aan die lig gekom dat Gumede in onderhandelinge betrokke was om ’n meerderheidsaandeel in die ENB-stadion te bekom.
Dít kom terwyl die GLRU reeds met die eienaars van dié prag-stadion in gesprek was om dit moontlik in die toekoms hul tuiste te maak.
Volgens Reyneke is dié saak dadelik met Gumede bespreek.
Daar is egter geen duidelikheid oor wat die uitkoms van dié gesprekke was nie.
Reyneke het Saterdag by navraag ook ontken dat daar enige tweespalt tussen die GLRU en die Lions-afrigter, die Nieu-Seelander John Mitchell, is.
Onder Mitchell se breierskap kon die Lions vanjaar nog net twee wedstryde in die Super-kompetisie wen – en gerugte wil dit hê dat die GLRU op soek is na ’n nuwe afrigter vir die swoegende Lions.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg