Leeus nie na FNB-stadion
2011-10-18 07:00
Johannesburg – Terwyl Ellispark, oftewel Coca-Colapark, Saterdag sy eerste Curriebeker-halfeindstryd in 12 jaar aanbied, is dit Maandag ook bevestig dat die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) voorlopig in dié tuiste bly.
Die lang onderhandelings tussen die GLRU en Stadium Management South Africa (SMSA), wat in beheer van die FNB-stadion in Soweto is, is beëindig.
Daar is oorweeg om die GLRU en al sy toekomstige wedstryde na die yslike en aanskoulike FNB-stadion te verskuif, maar die GLRU wou nie SMSA se laaste aanbod oor die voorgenome skuif aanvaar nie.
Daarmee is onlangse gerugte dat die GLRU selfs oorweeg het om Ellispark te verkoop om uit ’n geldelike verknorsing te kom, in die kiem gesmoor.
’n Nuwe konsortium, gelei deur die GLRU-adjunkpresident en sakeman Altmann Allers, se onlangse besluit om as GLRU-ekwiteitsvennoot betrokke te raak, het waarskynlik ook ’n rol gespeel in die nuutste besluit om “tuis” te bly.
Volgens inligting was die weiering van losiehouers by Ellispark om te skuif, asook die waarde van die stadion in Doornfontein as ’n GLRU-bate, die groot redes vir die besluit om in sentraal-Johannesburg te bly.
“Ons is baie teleurgesteld oor die Leeus se besluit om nie hul Curriebeker- en Super Rugbywedstryde in die FNB-stadion te kom speel nie,” het Jacques Grobbelaar, hoof van SMSA, gesê.
“Ons is bewus van die kundige wyse waarop die Leeus ’n moontlike skuif oorweeg het en respekteer die redes vir hul besluit.”
Kevin de Klerk, president van die GLRU, het gesê hy sien daarna uit om Coca-Colapark voortaan volgepak te sien. “Coca-Colapark sal die tuiste van die MTN Goue Leeus bly.
“Die Leeus gaan enige bedenkinge oor die stadion se ligging onder die loep neem en ’n vriendelike en gemaklike omgewing bied, soos die geval die afgelope jare was,” het De Klerk gesê.
Saterdag se halfeindstryd teen die Westelike Provinsie is die eerste hier sedert Hannes Strydom se span in 1999 met 81-21 oor die SWD-Arende geseëvier het.
Die Leeus het toe die Curriebeker gewen. In 2002 het die Leeus-wel hul eindstryd hier met 7-31 teen die Blou Bulle verloor.
Wikus van Heerden is die enigste huidige Leeu wat toe ook gespeel het. Saterdag se wedstryd is boonop ’n geweldige uitdaging noudat WP weer verskeie Springbokke tot sy beskikking het.
Verder moet die Leeus die WP sonder die staatmaker-voorryman JC Janse van Rensburg pak.
Janse van Rensburg het sy dyspier in Saterdag se groot nederlaag teen die Haaie in Durban beseer.
Toe hy van die veld is, het die Leeus veral harde bene in die skrums gekou, al was dit ook in die tydperk toe die kragtige Du Plessis-broers, Jannie en Bismarck, as plaasvervangers op die veld verskyn het. Jacobie Adriaanse is die gunsteling om Janse van Rensburg te vervang, al kan hul Bok-aanwins, CJ van der Linde, dalk ’n verrassende keuse wees.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg