'Leeus is lui', sê breier
2010-08-09 11:06
Durban - John Mitchell, die Leeus se afrigter, het nie Saterdagaand doekies omgedraai nadat sy span hier in die Haaitenk met 48-19 deur die Haaie verslind is in hul Curriebeker-rugbywedstryd nie.
“Ná die onlangse goeie tekens het ons ’n groot tree terugwaarts beweeg.
Dit was ’n baie teleurstellende vertoning en ons kon nie koelkop bly onder die geweldige druk wat die Haaie op ons geplaas het nie,” het Mitchell ruiterlik erken.
“Ons het vandag as ’n klomp individue gespeel en nie as ’n span nie.
Ons sal moet leer dat as dinge moeilik gaan daar as ’n span saamgestaan moet word en nie op individuele vertonings staatgemaak moet word om ons daaruit te kry nie.
“Die spelers was vandag lui en het kop verloor.
En dit is so dat jy nie die krake wat mettertyd ontstaan het maklik opvul nie.
“Maar hierdie is ’n groep spelers wat gretig is om te leer en hopelik sal ’n nederlaag soos hierdie ons op lang termyn meer goed as kwaad doen.
“Tot en met rustyd (16-18) was ons nog sterk in die prentjie, maar die twee onderskepdrieë wat die Haaie daarna gedruk het, het ons baie seergemaak,” sê Mitchell.
Dié gewese breier van die All Blacks was vol lof vir die Haaie se losskakel, Patrick Lambie, wat 28 punte aangeteken het.
“Hy straal ’n kalmte uit wat hom nog toetsrugby gaan laat speel. Hy is ’n baie gebalanseerde aanvaller wat presies weet wat hy wil doen,” sê Mitchell.
Agter ’n pak wat oorheers het en die Leeus stelselmatig afgetakel het, het Lambie die oorhand oor sy direkte teenstander, Elton Jantjies, gehad.
Tog het dié jong leeuwelpie gewys hy het die vermoë om eendag ’n maanhaar te word.
Nog ’n jongeling van die Leeus, die heelagter Jaco Taute, kan ook tevrede voel met sy vertoning, met die flank Derick Minnie wat oudergewoonte sy alles gegee het.
Die Haaie het ondanks hul puik sege vroeg ’n groot terugslag beleef toe die flank Jean Deysel, wat teruggekeer het van ’n besering, binne drie minute die veld moes verlaat met ’n kniebesering wat ernstig blyk te wees en hom geruime tyd op die kantlyn kan hou.
Die Haaie behoort Vrydagaand hul Bok-vleuel, Akona Ndungane, terug te verwelkom vir die stryd teen die Luiperds in Rustenburg.
Puntemakers:
Haaie 48 (18): Drieë: Lwazi Mvovo (2), Patrick Lambie, Jacques Botes, Craig Burden. Doelskoppe: Lambie (4). Strafdoele: Lambie (5).
Leeus 19 (16): Drie: Deon van Rensburg. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele J antjies (4).