Leeus kan weer brul as hulle dié doepa kry
2011-09-27 08:46
Johannesburg – Die waarskynlike terugkeer van Michael Bondesio as skrumskakel kan dié week die Goue Leeus se doepa wees voordat hulle die Vrystaat-Cheetahs Saterdagmiddag in Bloemfontein aandurf.
Bondesio moes hom kort voor Saterdag se nederlaag in die Gautengse derby teen die Blou Bulle weens ’n kuitbesering onttrek en is deur Rudy Paige vervang.
Paige (22) se eerste volle wedstryd in die Curriebeker-rugbyreeks was ’n groot vuurdoop met oomblikke van vinnige en flink diens, maar ook ’n mate van voorspelbaarheid wat die kenmerke van sy dag was.
Op 1.69 m in sy sokkies is Paige maar ’n klein kêrel.
By die Leeus word hy beskou as ’n speler met ’n groot hart en sy teenwoordigheid is altyd ’n inspuiting vir die spangees.
Tog is Bondesio, wat al ’n bekende op Curriebeker-vlak is, teen die Bulle gemis.
Met Paige in die beginspan was die jong aanwins van die Waratahs, Eddie Bredenhann (20), ’n plaasvervanger.
Hy het nie speelkans gekry nie.
Die Leeus se afrigter, John Mitchell, het wel ná die wedstryd vir Paige geskerm toe oor sy vertoning in die nederlaag met 18-21 gevra is.
“Ek dink ons voorspelers het nie goed na hom gekyk nie en dit maak dit moeilik vir ’n jongeling.
“Vir ’n jong ou dink ek hy het goed gevaar en het baie lesse geleer. Die enigste manier wat ’n ou regtig leer, is op die speelveld,” het Mitchell gesê.
Bondesio het juis die Leeus se eerstekeuse-skrumskakel geword met die vertrek van Jano Vermaak na die Blou Bulle in Augustus vanjaar.
Vermaak het die Bulle se eerste drie in die eerste minuut van die wedstryd op Coca-Colapark gedruk.
Hy het ’n steekskoppie van Bjorn Basson in die Leeus se doelgebied toegeval.
Dit was ’n drie waaroor Mitchell suur was, aangesien dit gelyk het of Vermaak voor Basson was toe laasgenoemde geskop het.
Vermaak het nietemin goed vertoon en soos die res van sy spanmaats met groot oorgawe verdedig.
Wat die Leeus-span betref wat teen die Cheetahs gaan speel, sal daar eers mooi gekyk moet word na die ligte dyspierbesering wat die vleuel Michael Killian opgedoen het.
Dié soort besering kan ’n speler soms vir weke lastig val.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24