Leeus is glo bankrot
2011-07-01 07:14
Johannesburg – Die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU) is reddeloos bankrot luidens ’n dokument wat die unie se voormalige vennoot, die GumaTAC-groep, aan Kevin de Klerk, president van die GLRU, gestuur het.
Skuld van etlike miljoene rande, waaronder ’n lening van R30 miljoen by Absa wat die GLRU oormôre moet terugbetaal, ’n eis vir die terugbetaling van sowat R14 miljoen en die onvermoë om salarisse te betaal, word in die dokument vervat.
Die dokument is deel van die sakemanne mnre. Robert Gumede en Ivor Ichikowitz van die Guma-groep se verduideliking waarom hulle hul vennootskap met die GLRU beëindig het.
Dié vertroulike dokument, wat aan Sport24 gestuur is, is op 27 Junie aan die GLRU se president gerig en deur Gumede en Ichikowitz onderteken.
In reaksie op die aantygings in die GumaTAC-dokument het De Klerk gisteraand gesê hy het klaar ’n aanbod van ’n nuwe ekwiteitsvennoot.
“Elke item in daardie dokument is betwisbaar. Dit is hulle (Guma) wat weggestap het. Daar was sommige van die klousules wat nog uitgeklaar moes word. Al wat ek wil sê, is dat die Leeus sal oorleef. Die unie het 120 jaar lank oorleef en hy sal weer,” het hy gesê.
Oor die beweerde R30 miljoen-lening by Absa is De Klerk nie te bekommerd nie. Hy het gesê dit is skuld wat hy geërf het.
Hy waarborg ook dat werknemers en spelers van die GLRU nie eensklaps sonder salarisse sal sit nie.
Die volgende bewerings word in die Guma-skrywe vervat:
Die Guma-groep het eiehandig borgskappe van sowat R100 miljoen vir die Leeus verkry en die borgskappe, wat beding is op grond van die Leeus se visie om te transformeer, kan nou in die gedrang kom.
Die Leeus het ’n aanbod vir die verkoop van die Ellispark-stadion vir R220 miljoen deur die Marc-groep oorweeg terwyl die regering met die Wêreldbeker-sokkertoernooi R540 miljoen se verbeterings aan die stadion aangebring het.
Die GLRU was in Oktober en Desember verlede jaar en weer in Januarie vanjaar nie in staat om salarisse te betaal nie en die Guma-groep moes ’n waarborg aan Absa gee om die uitbetaling van salarisse moontlik te maak.
Die Guma-groep moes toetree om die betaling van ’n lening van R30 miljoen aan Absa in Mei uitgestel te kry en dat hulle onlangs weer uitstel van betaling van dié lening tot 3 Julie beding het.
Die GLRU het tot 90 spelers onder kontrak en hoewel sommige van dié spelers nie by oefeninge is nie, kry hulle steeds groot salarisse.
Dick Muir (voormalige afrigter van die Lions) het ’n salaris van sowat R2,2 miljoen per jaar ontvang, al is hy sedert Mei verlede jaar nie meer aktief by die Leeus betrokke nie.
Sekere lede van die uitvoerende bestuur van die Goue Leeus het hul eie agendas bevorder en die vennootskap ondermyn.
GumaTAC voer aan hy het meer as R14 miljoen tot dusver in Leeus-rugby gestort en die sakemanne se regsverteenwoordigers gaan met die GLRU in gesprek tree om oor die terugbetaling van die geld te onderhandel.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg