Leeus eindelik uit Bulle se skadu?
2011-09-24 09:01
Johannesburg - Daar is diegene wat vandeesweek gesê het vandag is die dag dat die Goue Leeus die Blou Bulle moet terugbetaal vir al die jare waarin die Rooibontes in die skadu van hul buurspan in Gauteng moes leef.
Die bordjies in vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks is in ’n mate verhang, met die Leeus nou bo-aan die puntelys en die Bulle hygend op nommer ses.
En as die Leeus die Bulle hier op Coca-Colapark klop, is dit waarskynlik ’n uitklophou vir die Pretorianers, met nog net drie naweke se ligawedstryde wat hierna oorbly.
Die Leeus was lanklaas die groot gunstelinge om enige span van die Bulle te klop. Twee sleutelwoorde kom by ’n mens op: oorgerustheid en desperaatheid.
Laasgenoemde het betrekking op die Bulle en is dit is waarmee hulle die Westelike Provinsie verlede week getroef het.
Vir die Leeus is ’n plek in die halfeindronde so te sê bespreek, iets wat ’n span op sy louere kan laat rus.
John Mitchell, afrigter van die Leeus, skud sy kop heftig wanneer hy oor die gevare van oorgerustheid uitgevra word.
“Die span kan nog baie verbeter. Ons erken dit. Die span is eerlik (met homself) en weet hy moet verbeter.
“Eindelik moet jy gedurig op jou vertonings verbeter as jy die beste in die reeks wil wees.
“Ons kan nie die situasie waarin ons is, beheer nie, maar ons kan wel fokus op die volgende wedstryd,” het Mitchell gesê.
Die span wat Josh Strauss-aanvoer, dra volgens Mitchell littekens van die verlede, iets waarby hy nou baat kan vind. “Ons weet hoe dit aan die ander kant van die draad lyk en was lank in daardie situasie. Daarom gaan ons nie dinge vooruit loop nie.”
Die flank Cobus Grobbelaar speel vandag in sy 100ste Curriebeker-wedstryd en dit sal ’n bykomende aansporing vir die Rooibontes wees.
Die Bulle se afrigter, Pine Pienaar, en sy span is steeds die bewakers van ’n trotse Ligblou-wenkultuur, al was hulle tot dusver in die reeks in die spervuur.
Die sege oor die WP was een tree nader aan “vergifnis”.
Die Leeus-stryd is egter die Bulle se belangrikste tot dusver in vanjaar se reeks.
Hulle móét wen as hulle nog ’n realistiese halfeind-kans wil behou en dié dryfveer gaan sorg dat daar nie plek vir sagte outjies in vandag se buurmanstryd gaan wees nie.
“Ons kan nie na ander spanne kyk en hoop hulle bewys ons ’n guns nie. Ons moet die hef in die hand neem en die Leeus klop, want slegs dan bly ons in beheer van ons eie bestemming,” het Pienaar gesê.
Die Bok-flank Dewald Potgieter moes hom weens ’n enkelbesering aan die Bulle se span onttrek en word deur Warwick Tecklenburg vervang.
Die spanne is:
Goue Leeus: Jaco Taute, Deon van Rensburg, Doppies la Grange, Alwyn Hollenbach, Michael Killian, Elton Jantjies, Michael Bondesio, Joshua Strauss (k), Derick Minnie, Cobus Grobbelaar, Franco van der Merwe, Michael Rhodes, Patric Cilliers, Bandise Maku, JC van Rensburg.
PLAASVERVANGERS: Martin Bezuidenhout, Jacobie Adriaanse, David Bulbring, Warren Whiteley, Rudy Paige, Burton Francis, James Kamana.
Blou Bulle: Zane Kirchner, Bjorn Basson, Wynand Olivier, Francois Venter, Gerhard van den Heever, Louis Fouché, Jano Vermaak, CJ Stander, Jacques Potgieter, Warwick Tecklenburg, Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Gary Botha (k), Dean Greyling.
PLAASVERVANGERS: Willie Wepener, Rossouw de Klerk, Gerrit-Jan van Velze, Arno Botha, Dustin Jinka, Francois Brummer, Jurgen Visser.
Skeidsregter: Lourens van der Merwe.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24