Mitchell 'het nog nooit so gehuil nie'
2010-10-12 11:21
,Johannesburg – Die breier van die Leeus, John Mitchell, sê hy het "nog nooit so baie gehuil" soos die aand wat hy in sy huis in Hyde Park, Johannesburg aangeval is nie.
Mitchell, ‘n voormalige All Blacks-afrigter, het Saterdagaand wakker geskrik om 'n inbreker langs sy bed te sien staan.
“Dit was alles baie skielik. Aanvanklik
het ek gedink dit was my huismaat, Wayne Taylor, wat besig was met een van sy
grappe, maar toe sien ek 'n tweede persoon. Ek het dadelik reageer om
myself te beskerm en dit was die oomblik wat hulle my gesteek het," het Mitchell gesê.
Volgens ‘n berig op die NZ Herald se webtuiste, is Mitchell gedwing
om in die fetale posisie te lê voordat hy vasgebind is.
“Ek het nog nooit so baie gehuil nie,” het hy gesê. “Hulle
het my forseer om stil te bly en het my aanhoudend op my kop geklap.
“Ons woon in ‘n lieflike kompleks, maar ongelukkig is dit reeds die afgelope drie maande nie veilig nie (die veiligheidshek is stukkend). Dit was baie maklik vir die twee verdagtes om by die kombuisvenster in te kom," het hy gesê.
Mitchell het berading vir die voorval ontvang en Maandag was hy weer terug op Coca Colapark.
Hy het bygevoeg dat dié voorval hom nie daarvan sal weerhou om in Suid-Afrika te bly en die Leeus af te rig nie.
Sy vrou Kay en kinders, Daryl en Ciara, woon tans in Perth.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24