Lang lys beserings ‘goed vir die WP’
2011-09-21 09:54
Een man se dood is ’n ander se brood.
Altesaam 17 rugbyspelers in die Westelike Provinsie se groter oefengroep het vanjaar al ’n proesel van daardie gesegde gekry, want dít is hoeveel spelers Curriebeker-wedstryde weens beserings misgeloop het.
Maar volgens Matt Proudfoot, voorspelerbreier van die Streeptruie, het dit die span se doelwitte vir die jaar eintlik gesteun.
Die Kapenaars het vanjaar met vrug jeug ingespan, juis om vir aanstaande jaar se Super Rugby-reeks diepte te skep.
“Ons seisoen is gekenmerk deur spelers wat kanse kry en dit aangryp,” het Proudfoot gesê.
“Hoewel dit vir individue reuse-teleurstellings is, is dit goed vir ’n span, want dit maak spelers honger en skep gesonde interne wedywering.
“Ondanks ál die beserings is die span se gemoed uitstekend,” meen hy.
Dít het volgens Proudfoot ’n rol gespeel in Lionel Cronjé se besluit om einde vanjaar Pretoria toe te trek.
“As ’n afrigter het ek die hoogste agting vir spelers wat beredeneerde besluite oor hul toekoms neem. Lionel het gesien hoe Gary van Aswegen, Kurt Coleman en Demetri Catrakilis hul kans gebruik.
“En hy moes homself afvra of hy volgende jaar tussen hulle en waarskynlik Peter Grant speelkans sou kry. Hy’t dus ’n verantwoordelike loopbaanbesluit geneem en verdien krediet daarvoor. Maar vanweë Isma-eel Dollie se besering sal Lionel nou vir die volgende paar weke sy kans in die WP-span kry en dalk uiteindelik deel van iets spesiaal wees – net so voordat hy weggaan,” aldus Proudfoot.
Benewens Cronjé behoort ook JD Möller Saterdag teen die Vrystaat uit te draf nadat Steven Kitshoff teen die Blou Bulle mediale knieligamente beseer het.
“Steven sal voor die einde van die reeks terug wees, maar JD is vandeesweek soos ’n 16-jarige by die oefeninge. Hy’t ’n maand terug oorweeg om uit te tree, maar kry nou weer ’n kans.
“As hy dit nie gebruik nie, sal dit JC Kritzinger wees. Hy het Dinsdag ’n goeie skrumsessie gehad en sal volgende week fiks genoeg wees om te speel,” het Proudfoot gesê.
Hierdie WP-spelers het vanjaar Curriebeker-wedstryde weens beserings misgeloop: Duane Vermeulen (aangewese kaptein), Gary van Aswegen, Lionel Cronjé, Kurt Coleman, Wicus Blaauw, Steven Kitshoff, Isma-eel Dollie, Pieter Louw, Adriaan Fondse, Nic Groom, Tim Whitehead, Demetri Catrakilis, Siya Kolisi, Steven Hunt, JC Kritzinger, De Kock Steenkamp en Deon Fourie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24