Lambie vir wolwe gegooi – Derick Hougaard
2010-11-25 09:03
Pretoria - Patrick Lambie word vir die wolwe gegooi op dié Bok-toer.
Só glo die gewese Springbok-losskakel, Derick Hougaard, oor die manier waarop dié jong Kwazulu-Nataller deur die Springbokke aangewend is op hul toer deur Ierland, Wallis, Skotland en Engeland.
Hougaard, wat sy toetsdebuut in 2003 as 20-jarige gemaak het, was in dieselfde wonderkind-skoene as waarin Lambie is en is in ’n uitstekende posisie om ’n oordeel oor die seunsgesig-agterspeler te vel.
Volgens Hougaard, wat deesdae naam maak as een van die voorste losskakels in die Engelse Premierliga, eers vir Leicester Tigers en nou vir Saracens, verstaan hy nie die denkproses as dit kom by die aanwending van Lambie nie.
“Ek dink dit is ietwat onregverdig teenoor hom. Ek verstaan eerstens nie waarom hulle Morné (Steyn) wil afhaal nie, hy is priceless in daardie toestande. Daar is nie ’n ander losskakel wat in daardie toestande kan regkry wat Morné doen nie en sy waarde as stelskopper kan nie gemeet word nie,” het Hougaard gesê.
“Saterdag se wentelling (teen Engeland) kan maklik 6-3 wees met een skop wat die verskil kan wees. Wie beter as om Morné op die veld te hê.”
Dit is oor Lambie se aanwending waaroor Hougaard kopkrap.
“Hy word opgestuur onder geweldige druk. Boonop is die spelers rondom hom ook nie baie ervare op toetsvlak nie. Beide skrumskakels het nie baie toetse daar gespeel nie en hoewel Jean (De Villiers) daar is, speel Frans (Steyn) ook uit posisie uit.
Lambie het dus nie baie ondersteuning rondom hom nie en dit maak dinge vir hom baie moeilik,” het die gewese “Liefling van Loftus” gesê.
Hy meen Lambie se werklike waarde sal in volgende seisoen se Superrugby-reeks behoorlik gemeet kan word.
“Daar behoort hy ’n lang tyd te kry om te wys of hy spel kan dikteer en of losskakel inderdaad sy beste posisie is.”
Hougaard is wel opgewonde oor Lambie, veral ná die jongeling amper sy rekord van 26 punte in ’n eindstryd verbeter het.
“Daardie eerste skop in die eindstryd en toe sy drie net daarna, met al die druk wat op hom was, het gewys die outjie kan nog ’n lang pad stap. ”
Hougaard erken hy het steeds drome om weer vir die Springbokke te speel. “Dit is ’n onafgehandelde hoofstuk in my loopbaan, maar ek het aanbeweeg.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24