Kykers straks weer in donker vir Bok-toets
2012-06-13 10:57
Johannesburg – Rugbyondersteuners sonder DStv sal waarskynlik nie Saterdag se tweede toets tussen die Springbokke en Engeland in Johannesburg op die kassie kan volg nie.
Volgens die DStv-sportkanaal SuperSport het Suid-Afrika se nasionale uitsaaier, SABC, nie belanggestel om die uitsaairegte vir die eerste toets in Durban te koop nie, selfs al was dit teen halfprys aangebied.
'n Woordvoerder vir die SABC, Kaizer Kganyago, het egter aan Beeld gesê dat die SABC en SuperSport nie 'n ooreenkoms kon bereik nie en dat dít die rede was hoekom die eerste toets nie uitgesaai is nie.
SuperSport besit die regte om al die Springbokke se wedstryde te wys, maar mag dit ook aan die SABC verkoop op voorwaarde dat die nasionale uitsaaier die wedstryde nie regstreeks wys nie.
Dié DStv-kanaal het 'n vyfjaar-kontrak met die SABC gehad wat in 2010 verstryk het en nie weer hernu is nie, het Clinton van der Berg, SuperSport-woordvoerder, gesê.
Sedert 2010 het die sportkanaal uitsaairegte op 'n wedstryd-vir-wedstryd-basis aan die SABC verkoop.
Kganyago het gesê die SABC is ontevrede oor sekere klousules in die kontrak wat betrekking het op advertensies en tydbeperkings.
Van den Berg het bevestig dat geen ooreenkoms rakende Saterdag se tweede toets in Johannesburg bereik is nie.
Afskoptyd is om 17:00.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA