Kykers red Sanzar se reekse
2010-04-22 10:04
Louis de Villiers
Kaapstad - Gerugte oor moontlike finansiële knyp wat op die drie Sanzar-rugbylande wag ná die wêreldekonomie verlede jaar so sleg gehik het, blyk voortydig te wees.
Uitsaairegte vir die Sanzar-reekse – die Super15, wat aanstaande jaar afskop, en die Drienasie-reeks – is vir ’n yslike $437 miljoen (R3,22 miljard) oor vyf jaar verkoop.
Onderhandelinge met uitsaaiers buite Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië is aan die gang en behoort ’n verdere $50 tot 60 miljoen op te lewer, volgens Andy Marinos, besturende direkteur van die SA Rugby-unie.
Die uitsaairegte is hierdie keer $114 miljoen (R841 miljoen) meer werd as die vorige soortgelyke ooreenkoms en daar is afsonderlik met Supersport, Fox Sports in Australië en Sky-televisie in Nieu-Seeland onderhandel.
Leë paviljoene wêreldwyd het begin maak dat mense bekommerd oor die spel se gesondheid begin raak het, maar duidelik is daar ’n onversadigbare TV-gehoor vir rugby.
“Die uitsaaiers kry ook meer: daar is meer wedstryde met ’n vyftiende span in Super-rugby, meer plaaslike derbies en ’n kwarteindronde.
Aanstaande jaar, weens die Wêreldbeker-toernooi, sal die Super15 aanvanklik korter wees en oor 21 weke beslis word.
“Betreffende die Drienasie-reeks, is die moontlikheid baie goed dat Argentinië in 2012 deel sal word daarvan.
“Daar is een of twee laaste haakplekke, maar dit sal hopelik in Mei uitgestryk kan word,” aldus Marinos.
Hy het erken dat die uitslag van die onderhandelinge ’n groot verligting is. “Ons kon beswaarlik op ’n swakker tydstip begin onderhandel het, met ’n wêreldwye resessie in volle gang.
Uitsaairegte is deesdae die lewensbloed van beroepsport en rugby is duidelik ’n yslike trekpleister vir TV-gehore.
Die nuwe V-ooreenkomste van Sanzar skuif Saru se inkomste uit dié bron met 34% op.
Gekoppel aan ’n vorige ooreenkoms met Supersport, wat R700 miljoen hoes vir die Junie-toetse, die Curriebeker- en Vodacombeker-reekse, het die SA rugbyliggaam se uitsaai-inkomste amper verdubbel vergeleke met wat dit in die verlede was.