Kry die bal by blitsige Nokwe!
2009-08-28 12:24
Jóhann Thormählen
Bloemfontein - Skep ruimte en kry die bal by die Springbok-blits.
Dít sal môre een van die Vrystaat-Cheetahs se planne wees in sy Curriebeker-kragmeting in Kimberley met Griekwas.
Die Bok-linkervleuel Jongi Nokwe se goeie peil maak hom een van die Vrystaters se grootste wapens in die wraakstryd teen die Poubloues.
Griekwas het in die eerste ronde, toe Nokwe nie in aksie was nie, sy buurman in Bloemfontein met 28-18 ore aangesit.
Nokwe het verlede week teen die Boland vier van sy span se nege drieë gedruk.
Hoewel hy drie daarvan afgerond het, was sy eerste ’n voorbeeld van iets wat uit niks geskep is.
Hy het ’n steekskoppie oor sy teenstanders se koppe gegee en sommige Boland-agterspelers na voorspelers laat lyk soos hy verby hulle genael het om agter die doellyn op die bal te duik.
Dié windhond is naas Gerhard van den Heever (vleuel) van die Blou Bulle die voorste driedrukker in die Curriebeker-reeks. Van den Heever spog met sewe drieë ná die eerste ronde en Nokwe met ses.
Wat dié blits se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy al ses sy drieë, twee teen die Luiperds en vier teen die Boland, in die Cheetahs se afgelope twee wedstryde gedruk het.
Hoewel kritici sal sê sy drieë is teen sogenaamde swakker spanne gedruk, het Nokwe dit in minder wedstryde as Van den Heever vermag.
Die Bok het vanjaar slegs vyf keer vir die Cheetahs uitgedraf, terwyl Van den Heever in al sewe die Ligbloues se kragmetings in aksie was.
Hoe dit ookal sy, die Blikore sal bly wees hul puntemasjien is weer op stryk en hy kan môre vir ’n paar Griekwas-verdedigers hakskene wys.
Nokwe het vroeër vanjaar onder kritiek deurgeloop en daar is gemeen hy moes sy plek in die beginspan kwyt wees.
Sy onlangse vertonings sal hom egter die nodige selfvertroue gee.
Nokwe kan wel meer werk soek.
Die hoeveelheid kanse wat hy teen die Poubloues kry, kan grootliks van homself afhang as daar min geleenthede vir die agterlyn is.
Boonop is Griekwas en die Cheetahs die spanne wat die meeste drieë in die reeks gedruk het.
Die Poubloues spog met 28 drieë en die Vrystaat met 27.
Hoewel bogenoemde statistieke op ’n drieëfees in die Diamantstad dui, behoort die stryd eerder deur die spanne se stelskoppers bepaal te word.
– Sport24