Kookwater-Brüssow moet skoolheld tem
2009-08-28 08:32
Louis de Villiers
Perth - Hy’s klein maar getryn en dis al klaar moeilik om jou ’n Springbok-rugbyspan sonder Heinrich Brüssow in te dink.
En môre speel hy saam met ál sy hoërskool-helde.
“Schalk Burger was my held op skool. Hy was jonk en dit het dit maklik gemaak om met hom te identifiseer. En net so Juan Smith, ’n uitstaande speler en van dieselfde unie waar ek was. Oorsee? George Smith - hy het dieselfde liggaamsbou as ek en hy het fetchers weer mode gemaak,” sê die Vrystaatse oopkant-flank.
Hy grinnik net as jy hom daarop wys dat hy môre saam met al drie dié spelers op die Subiaco-ovaal in aksie sal wees.
“Ek moet erken ek kon dit nie voorsien nie. Ná verlede jaar se toer Engeland toe het ek gedink om alles in te sit in die Super14-reeks en toe ek daarna uit die Bok-groep wegval, was ek teleurgesteld. Maar ek was geseënd en het my kans gekry.
“Dit is iets besonders om deel van hierdie span te wees, nie net oor die rugby nie, maar oor die hele lewe. Ek leer so baie,” sê Brüssow, nog ’n plat-op-aarde kêrel wat jou hoop gee dié Bokke gaan nog baie toetse wen.
Môre is dit hy en Smith, maar hy weier om só daarna te kyk. “Ons fokus almal op die hele span. As ek net na nommer ses kyk en Jean de Villiers kyk net na nommer 12, kom daar gou-gou gate en is ons almal in die knyp.
“Maar Saterdag is dit die eerste maal dat ek oorsee uitdraf in ’n toets en dis besonders.
“Om baljagter te speel, is maar moeilik - jy moet elke wedstryd aanpas by die skeidsregter en die ander span; jy moet aanvaar jy gaan strafskoppe afstaan. Maar die skeidsregter vir dié toets, Bryce Lawrence, is regverdig. Hy behandel albei spanne eenders.
“Dis ook mislik om altyd die skeidsregter te blameer. Dis ’n moeilike taak. Niemand kan orals sien nie - kyk jy goed wat in die skrums gebeur, kan jy nie die onkantlyne so goed dophou nie. Jy moet eenvoudig soms fouteer.”
Brüssow skram weg van die gedagte dat hy Burger uit die Bok-span hou.
“Schalk is ’n aanwins waar hy ookal gaan. Hy is ’n ses-flank duisend en dit beteken die wêreld vir die span om hom terug te hê ná sy skorsing. Ek glo ons kan maklik in dieselfde span speel, maar Juan (Smith) is ewe besonders en dit is moeilik om oor dié storie te besluit.”
Brüssow trek sy skouers op oor afrigters met ’n wantroue in klein losvoorspelers. “Ag, as jy teen Australië speel en hulle probeer die wedstryd so vinnig moontlik maak, is ’n kort flank dalk ’n goeie idee - om om die losbal mee te ding en hulle s’n te vertraag.
“Teen Engeland is dit dalk die teenoorgestelde - hulle is fisiek en soek konfrontasie voorlangs. Ek sou verstaan as jy vir grootte gaan teen hulle.”
Brüssow is egter een van die vernaamste redes dat Aussie-rugby nie na môre met veel vertroue kyk nie. As die Bokke môre sou wen, sal die blonde buksie baie daarmee uit te waai hê. Want hy is die man wat sy skoolheld, George Smith, in toom moet hou.
– Sport24