Kollig is op 'sterre vir WB'
2011-04-30 10:00
Kaapstad - Suid-Afrika het laas in 2002 Springbok-proewe gehou en met ’n propvol rugbyprogram is die kanse seker goed dat ons dit nooit weer sal sien nie.
Tog kom vandag se Super Rugbywedstryd tussen die Stormers en Sharks op Nuweland seker in etlike gevalle op niks anders as Bok-proewe neer nie.
Dis nóg meer die geval as in gedagte gehou word hoe swak die Bulls vanjaar vaar. Daar sal steeds meer Blou Bul-spelers as van enige ander provinsie vir môre en Maandag se nasionale beplanningsessie hier opdaag, maar die rede is bloot die welslae wat hulle in die verlede behaal het.
Jy het nie ’n graad in kernfisika nodig om op te let dat Duane Vermeulen deesdae heelwat meer na ’n Bok-agtsteman as Pierre Spies lyk nie, terwyl daar tans nie ’n beter slot in Suid-Afrika as Andries Bekker is nie.
Ryan Kankowski het nog nie ’n Bok-span in die steek gelaat nie en dit sal interessant wees hoe hy en Vermeulen opweeg. Kankowski het plofkrag met die bal in die hand, terwyl Vermeulen hou van lak en dikwels omkeerbesit in kontaksituasies wen.
Daar word toenemend ook ’n saak uitgemaak vir Bekker om voor Bakkies Botha as Victor Matfield se slotmaat in die Bok-span aan te tree. En waarom dan nie? Die Stormers-slot steek beslis nie lyf weg in die fisieke aspek van die spel nie en bied geweldig baie in die lynstane.
Fourie du Preez sal maar moet begin om teen meer as “20%” (aldus die Bok-breier, Peter de Villiers), van sy vermoë te speel, want die Sharks se Charl McLeod lyk op 100% toenemend na ’n puik keuse.
Daar sal straks vyf Bok-vleuels op Nuweland in aksie wees. Bryan Habana en Gio Aplon begin vir die Stormers, terwyl JP Pietersen en Odwa Ndungane deur die Sharks ingespan word en Lwazi Mvovo op die besoekers se plaasvervangersbank is. Habana sal moet uithaal en wys, want Pietersen gedy in sy span se aanvallende patroon.
Suid-Afrika se twee voorste vaskopstutte – CJ van der Linde en Jannie du Plessis (Sharks) – is ook aan weerskante in aksie.
En o ja, was dit nie nou die dag nog wat ons mense hoor fluister het dat Deon Fourie óók nou ’n beter haker as die Springbok-kaptein, John Smit, is nie?
Smit het verlede week ’n sterk vertoning as haker teen die Hurricanes gelewer en sal ’n verwoede aanslag deur die Sharks lei.
Hulle eer is gekrenk deur die nederlaag teen die Stormers in Durban en die eerste plek in die Suid-Afrikaanse groep is op die spel.
Dis seker ook maar so dat De Villiers by die meeste van sy staatmakers gaan hou vir die Wêreldbeker-toernooi in September in Nieu-Seeland, ongeag hoe goed of sleg hulle in die Super Rugbyreeks vertoon.
’n Bok-span moet egter die stempel van geloofwaardige spankeuses dra.
Hou dus maar dié Nuweland-stryd mooi dop.
Die spanne is:
Stormers:
Conrad Jantjes, Gio Aplon, Jaque Fourie, Jean de Villiers, Bryan Habana, Lionel Cronjé, Dewaldt Duvenage, Duane Vermeulen, Francois Louw, Schalk Burger (k), Andries Bekker, Rynhardt Elstadt, CJ van der Linde, Deon Fourie, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Ethienne Reynecke, Brok Harris, De Kock Steenkamp, Nick Koster, Ricky Januarie, Kurt Coleman, Juan de Jongh.
Sharks:
Louis Ludik, Odwa Ndungane, Stefan Terblanche, Meyer Bosman, JP Pietersen, Patrick Lambie, Charl McLeod, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Keegan Daniel, Ross Skeate, Steven Sykes, Jannie du Plessis, John Smit (k), Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Bismarck du Plessis, Eugene van Staden, Alistair Hargreaves, Jean Deysel, Conrad Hoffmann, Adrian Jacobs, Lwazi Mvovo.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24